Soekgeselskap…

Die afgelope week was ons straat behoorlik in rep en roer…Eers het ons met skok verneem dat AL die honde van Petstraat 72 tot 88 vergiftig is (ons woon in 67, so ons mooi Bailey het dié aaklige verskrikking gelukkig net-net vrygespring), en toe, toe raak Chloë van Petstraat verlore en die hele dorp begin soek…

Chloë is Sarel en Melinda se 11-jarige Yorkie, en sy is net 20cm hoog en 30cm lank.  Jip.  Piepklein.  En op `n spesiale dieet.  Jy kan jou dié soektog nie regtig voorstel nie, want vir al wat jy weet loop jy reg langs haar verby terwyl sy salig onder `n tuinsampioen of graspolletjie lê.  Maar, almal het help soek.  Die polisie het gesoek.  Vriende het gesoek, familie het gesoek en vreemdelinge het gesoek. Tevergeefs.

Van Maandag tot Donderdag het Melinda haar trane agter `n dapper glimlag weggesteek in die klas, en toe sy Vrydag nie oudergewoonte opdaag vir step nie, het ek die ergste gevrees.

Maar sowaar, Vrydagoggend douvoordag lê Chloë voor Burlec se deur reg onder haar plakkaat: “R1000 reward/beloning vir verlore Yorkie…”, asof sy wil sê ‘hier`s ek, vat my huis toe.’

Hoe Chloë ongedeerd oor die besige Kerkstraat gekom het, is vir my `n raaisel en `n wonderwerk.  En die hele gesoekery het my net weer laat besef – ons mense is eintlik maar heeltyd aan`t soek! 

Toe ons klein was, was ons begrip van soek beperk tot wegkruipertjie speel met lekker tennisbeskuitjies en rooi Kool-aid agterna wanneer ons moeg geblok-my-self-was.  En wanneer iets weggeraak het, was dit nooit regtig ons bekommernis nie.  Want Ma sou weet waar dit was.  Behalwe wanneer haar dik houtlepel soek geraak het – dan was dit groot moeilikheid, want om een of ander rede het haar winterpantoffel baie seerder geslaan.

…Verlede week het ek my doodgesoek na my 2017 “African Bootybarre mix” – `n enigste eksemplaar spesiaal gemaak vir my eksamen, met Ipitombi en Pata Pata en al.  Destyds het Andrew my vir ure in sy ateljee gehelp om dié “Playlist” aanmekaar te slaan, en dit bly my gunsteling. 

Gereeld bel ek my selfoon van die huisfoon net oor ek dit al weer êrens misplaas het.  En om half vyf in die oggend die BMW se spaarsleutel uit Schalk se onderbroeklaai te gaps net oor ek nie kan onthou waar ek die karsleutel neergesit het nie – is geen nuwe verskynsel nie.  Ma`s soek gedurig na kousmaats, tieners soek permanent “airtime” en data, party mense soek mooier huise, ander is gedurig op soek na die asemrowende skooonheid van imposante berge en verre riviere.  En elke jaar soek `n spul boere na vroue op Kyknet…Sug.

Of is dit die vroue wat soek?   Na liefde?  Aandag?  Geld?  Tweede kanse? Ek is nie mooi seker nie.  Ek weet net ek tel elke Donderdag my seëninge en slaak `n sug van verligting dat dit nie ek is wat myself moet begewe om aan `n tafel met boer Kobus te sit en praatjies maak oor wors nie.  Dit gee my sommer koue rillings, maar dis gelukkig nie waaroor ek wil skryf nie.

Gister in Menlyn se Dischem sê ek vir die vriendelike kassier met die sagte oë:  “Hou jy maar hierdie groen komplimentêre Elancyl-sakkie.  Gee dit vir jou dogtertjie, sy  sal lekker daarmee speel…”

“Ek het nie meer `n dogtertjie nie.  Sy’s weg, mevrou…”

Skaam kry ek net daar, op die plek, oor my vlaag van verlorenheid oor `n gesteelde Instagram-profiel `n paar maande gelede.  Ons doen dit almal.  Treur oor beursies.  Of fone.  En goeters.  Tot die dag wanneer die woord “soekgeselskap” `n wrede realiteit word vir `n gesin.  Ek kan nie help om weer te dink aan Leonie Joubert en hul gesin se lang soektog na Klakkie in die Oranjerivier nie.  Daar is Henry Joubert, `n boer van Bultfontein wat vandag, na drie maande, steeds tevergeefs soek na sy verloofde en twee kinders!

Ek lees op Maroela Media se webwerf dat in Suid-Afrika `n kind elke 60 uur vermis word.  16 000 kinders is die afgelope 18 jaar vermis aangemeld, en van al die kinders wat vermis word, word 25% nooit gevind nie.

Eswee vertel dat sy hart se punt, Mia, `n Duitse Herdershond, en ons almal se oogappel, verlede week soek geraak het in `n diere-vriendelike eetplekkie in Johannesburg.  Eswee was vas oortuig dat sy voet op Mia se leiband was…Gelukkig het Mia net die sjef gaan opsoek in die kombuis, maar ek kan my indink watse paniekerigheid in daardie paar minute na Mia se verdwyning deur my seun se kop moes flits.

Daar kom tye wat elkeen van ons naarstigtelik op soek is na iets, na aan ons hart, wat spoorloos verdwyn.  En dan, wanneer ons alles terug gevind het, soek ons weer.  Na wat ook al.  Want die gras is mos groener.  Ons voel gedurig dat as ons daardie een dingetjie buite ons bereik, net kan kry, ons lewens volkome sal wees.  Ons soek daardie nommer 8 denim, nie die 10 nie, dan sal als klopdisselboom wees.  Ons soek met `n seer hart na `n ander huis in `n beter buurt, dan gaan ons mos lekkerder bly.  Ons soek.  En ons soek.  Swerwers sonder rigting.  Soekers wat nooit vind.

 In die vorige episode van “Die Boekklub” sê Margit Meyer-Rodenbeck, alias ds Vera, vir `n moedelose Tom: “Ons is almal maar op soek…na dieselfde ding.

Sy noem dit nie by die naam nie…Maar ek wonder, waarna het sy verwys?  Geloof?  Liefde?  Geluk?  Hoop? 

Ek en jy, ons, ons moet onsself aanspoor om deel te word en te bly van `n soekgeselskap na hoop.  Want hoop is hier, om ons, elke dag, binne-in hierdie Covid-wêreld.  Al lyk dit nie so nie.  En dis nie so piepklein soos Chloë nie.  Ons moet net mooi kyk.  Dis in oë wat glimlag agter somber maskers in Pick and Pay, dis in elke pasiënt wat ontslaan word uit die hoësorg-eenheid in die Medi-Clinic, dis in 50 entoesiastiese mense wat opdaag vir `n Bounce-A-Thon vir kanker en in elke matrikulant wat binne `n paar weke gaan studeer. 

Die Latynse uitdrukking lui: “Dum spiro – spero” (while I breathe, I hope).

Solank ek asemhaal, hoop ek.

Solank ek asemhaal, gee ek.

Solank ek asemhaal, vergeef ek.

Solank ek asemhaal, LEWE ek.

Solank ek asemhaal, is ek dankbaar.

En.  Solank ek asemhaal, hoef ek dalk nie verder te soek nie.

 

Op sy Facebook-blad skryf Creig Crippen:

“Oh what we find

When we stop searching.

Oh what we feel

When we stop forcing

Oh what we receive when we stop fearing

Oh what we become

When we just love…”

Hê `n wonderlike klopdisselboom week, waarin jy nie een keer iets verlê nie, en na niks hoef te soek nie!

Mirna

092 779 0507

3 comments to “Soekgeselskap…”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Rethia says:

    Mirna, dis vir my goed om te hoor dat dit nie net ek is wat gedurig na my tjorrie se sleutel soek nie….,!

  2. Mariaan says:

    Pragtig Mirna!!

    Sjoe, ons het soveel om voor dankbaar te wees! Dankie Jesus vir als wat U aan ons voorsien!
    Nou wil ek net my man en kinders gaan drukkies gee!! Xx

    • Mirna says:

      Dankie Mariaan!