Op `n ysige Saterdagmiddag, vroeg in Augustus, laaaaank voor oom Cyril ons gevra het om aan die Jerusalema-uitdaging deel te neem, het ek en 50 gewillige lede reeds dié gewilde danspassies op Zoom uitgevoer. Ons het dit sommer as `n lekker ysbreker gedoen tydens ons Winter Challenge se aanlyn-prysuitdeling, maar ek dink ek het toe reeds geweet – hierdie Jerusalema-dans sou `n lewensredder word in 2020…
Maar waar het alles begin? Die kunstenaar, Master KG, alias Kgaogelo Moagi, het die lied al in Desember 2019 uitgereik, maar vertel dat `n groepie seuns uit Ghana in Maart, net voor die pandemie, op die lied gedans het en `n video daarvan op sosiale media gedeel het. Master KG het dit self ook op verskeie platforms gedeel. Dit het soos `n veldbrand deur die wêreld versprei en die res is geskiedenis.
Teen verlede week is die liedjie al meer as 150 miljoen keer van YouTube afgelaai of geluister. Die mega-sokkerster Christiano Ronaldo, met meer as 230 miljoen volgelinge wéreldwyd, het die liedjie en dans onlangs op sy webblad gedeel tydens `n familie-saamtrek. Meer as 44 miljoen van Ronaldo se ondersteuners het reeds die lied afgelaai of geluister op hul fone, en TikTok spog al met meer as 185 miljoen #JerusalemaDanceChallenge video`s!
Die hele wêreld se verbeelding is aangegryp deur hierdie voetjeukmelodie van Master Kg met die besielende stem van Nomcebo Ziko, en mens kan nie help om breed te glimlag nie. “Dance, and the whole world dance with you…” Né!
Polisiemanne, wildbewaarders, nonne, die Teletubbies, Laurel en Hardy, hospitaalpersoneel en skoolkinders, ja almal is al meegevoer deur dié groepsdansgier. Van die strande in Miami tot die strate van Frankryk en die dakke van woonstelgeboue in Italië tot beskeie rugbyveldjies in Saldanhabaai en stofpaadjies in Lothair is die hele wêreld die afgekope klomp weke vir `n paar minute in musiek verenig, met wikkelende lywe en gesigte wat straal van lekkerte.
En die lekkerste van hierdie Jerusalema-dans? Dit maak nie saak of jy twee linkervoete het, of jy heel agter staan of so twee of drie passies agter is nie. Dis bevrydend. Boonop is hierdie lied, wat al selfs die sprong na die VSA se treffersparade gemaak het, die mees gesogte lied op Shazam is en besing word as die “nuwe” Gangnam-style en Macarena, so trots-Suid-Afrikaans as kan kom! En die beste van alles? Dis `n lofprysingslied met hoopvolle verwagting.
Hoor net hoe mooi skryf Retha Fick daaroor in Beeld van 26 September: “Almal dans die eenvoudige lied wat die ganse wêreld oorrompel en wat handel oor die verlange na `n hemelse stad, `n ware tuiste vir die vuisvoos pelgrim…”
Dalk is dit juis waarom Jerusalema in 2020 `n soete grashalm is. Dit laat ons so klein rukkie vergeet van ekonomieë wat ineenstort en korrupsie en kinders wat honger gaan slaap en grusame plaasmoorde. Dis so `n pakkie positiwiteit vir elkeen wat daarna luister, en dit laat ons opnuut besef: dis oomblikke wanneer ons bymekaar kom en saamstaan wat ons net weer laat besef ons is almal sterker saam, ten spyte van hoe ons verskil.
Skielik kan ons sommer ook beter identifiseer met Vivian Greene se woorde, “Life isn’t about waiting for the storm to pass. It’s about learning how to dance in the rain.” Dis die wonderlike lewensles wat Covid-19 en lockdown ons kom leer het. Om nie te wag vir die storm om verby te gaan met ons koppe onder die kussing nie, maar om te vertrou, ons dansskoene aan te trek, en te dans.
Die virus is nog lank nie verby nie, maar ons dans. Mense verloor hulle werk en besighede sluit vir oulaas hul deure – maar ons dans. Terwyl ons weet die sjampoe-advertensie was nie eens rassisties nie en wonder wanneer Zuma eendag gaan rekenskap gee voor die Zondo-kommissie, dans ons!
Na Donderdagaand se haelstorm was ons huis onder water. Als sopnat. Lilian WhatsApp uit Carnarvon: “Dit moes vreeslik wees”. Ek sê met `n glimlag: “Weet jy, Lilian, vandat lockdown gebeur het is niks meer regtig vreeslik nie☺. Vrydagoggend is ons klokslag op ons pos in die studio. Want dis wat ons doen.
En so al dansend, jaag ons ‘n ander pandemie weg …negatiwiteit. Want negatiwiteit maak ons ore doof vir die ritmiese klanke van die mooi lied, Jerusalema. Negatiwiteit laat ons wonder of die ganse, wye wêreld dan nou kop verloor het deur te dans. En dit kan ons regtig nie bekostig nie.
Met geloof en optimisme kan ons mure afbreek en klein oorwinnings vier. Dis hoekom dit dans genoem word! “DANCE – Defeat All Negativity (via) Creative Expression”, aldus Shah Asad Rizvi.
En daarom, tussen al ons Power Pump en Rebound-klasse en dumbbells en Bootybarre en Pilates, maak ons seker dat ons dans ook in die studio. Twee keer `n week kap ons dit flou in Cardio fun, een keer `n week Zumba ons en drie keer `n week baljaar ons oor en langs en op die stepkassies op die maat van die mooiste musiek.
Ons kan nie anders nie. Dis lekker. Maar dis veel meer. Dis wat keer dat die moedeloosheid soos `n klip in ons mae kom lê. Dis wat help om so bietjie van die hele wêreld en ons eie ellende te vergeet. En dis wat ons sterk hou. Het Lucas Maree dan nie juis presies dit gesing oor die ander Bybelse stad nie: “Jerigo se mure was bewapen teen die sterkste mag / maar kyk wat het musiek daarmee gemaak / kyk wat het musiek daarmee gemaak…”
Ek dans nie omdat die president my uitgedaag het om dit te doen nie. Ek dans al laaaaankal – “boogie my bliss, dance away my density and jump for joy”, nes Amey Leigh Mercree dit beskryf in haar boek “Joyful living.” Hierdie Woensdag neem ons amptelik ons Jerusalema-dans af vir ons YouTube-kanaal. Ek kan nie wag nie!
Ek weet dat ek die dans én die musiek in my lewe nodig het om te oorleef. Maar ek dink, nes jy, hoor ek ook reeds die klanke van die hemel se musiek. En juis daarom KAN ons dans. Want ons ken die Een wat die musiek maak.
Mirna
082 779 0507
2 comments to “Dans en die hele wêreld dans saam…”
Ek het jou stuk baie geniet. Ongelooflik dat Jerusalema so bekend geword het! Mense is uitgehonger vir saam dans en saam dinge doen
Sjoe, ja, dis so waar, Colette!