Die bekende skrywer Israelmore Ayivor het onlangs gesê: “No matter how you were taught by your teacher about how to recite a poem, it is impossible to wear your teacher’s smiling face to the stage. You got to put on that smile.”
So droom ons as ma`s vir die dag dat ons kinders sê, “Toemaar Mamma, ek sal self”, en die dag wanneer dit gebeur, sluk jy in elk geval `n groot knop in jou keel weg. “Ek sal self klas toe stap, Mamma”. “Ek sal self my skoen vasmaak.” “Ek sal sommer self die Take-a-lot pakkie bestel met my eie kredietkaart…”
Dis daardie pragtige “Ons sal self”-lied van Steve Hofmeyr en sy 15 vriende wat my kop weer aan die dink gesit het. Verstaan mooi, ek predik nie vandag Solidariteit se Werkherstelprogram nie. Ek gaan nie eers praat oor Senekal 1 of 2 nie. Ook nie oor die ironiese feit dat jou kans, vandag, om te sterf in `n plaasaanval 100% meer is as die kans dat jy kan sterf aan Covid-19 nie.
Elke wrede plaasmoord raak elke liewe Suid-Afrikaner. Dit gaan oor veel meer as `n Afrikaanse mond wat stil raak, of `n plaashuis wat leeg staan, of `n oop sitplek in die kerk. Met elke boer wat sterf, word nog `n eerste skakel in die voedselketting morsaf gebreek. Nog twintig plaaswerkers werkloos gelaat. Duisende borde leeg…Maar ons praat nie vandag daaroor nie.
Vandag, op hierdie 206de dag van lockdown, weet ek dat die “Ons sal self”-veldtog tot elkeen van ons spreek. Ongeag ons velkleur. Teen hierdie tyd weet elke Suid-Afrikaner dat ons nie op ons regering kan staatmaak nie. Ons moet self. Ons het al self. Ons kan nóg self.
Twee middae `n week word ons studio geraak deur ons dorp se beurtkrag. Niemand rol meer hul oë nie. Elkeen sit hand by om die kragopwekker woordeloos en blitsvinnig aan die gang te kry. En ek luister so na die vrouens – meeste het in hierdie paar maande geleer om met heelwat minder klaar te kom en meer huiswerk sommer self te doen.
Meer as ooit weet ons die wêreld waarin ons leef is nie `n perfekte een nie. Covid-19 en ons regering se ekonomiese “besluitneming” het almal van ons op ons knieë gedwing. Daarom sal ons self. Want die krag van die gemeenskap is sterker as die mag van die staat. Dis nie ek wat dit uitgedink het nie. Die Britse historikus, Arnold Toynbee, het dit bevind na`n omvangryke studie oor beskawings wat voorspoedig bestaan teenoor die wat misluk.
…Die lewe is kosbaar en kort, ons paadjies meer uitdagend as ooit, maar hierdie is nie ons eerste krisis nie en dis verseker ook nie die laaste een wat ons sal beleef nie. Daarom sal ons self.
Ons sal self. Jy sal self. Ek sal self. Self vroeg opstaan om te gaan oefen. Self beter begin eet. Self beter na myself kyk. Self genoeg omgee vir myself. Self genoeg tyd maak vir myself. Self besef dat selfliefde veel meer behels as `n manikuur, `n borrelbad of `n komkommermasker.
Selfliefde sê ek sal aanhou om self verhewe drome te droom, want “soos jy droom sal jy word. Jou visie is die belofte van wat jy eendag sal wees. Jou ideaal is die profesie wat jy uiteindelik sal onthul”, aldus James Allen in sy boek “As a man thinketh”.
“Ons sal self” gaan oor veel meer as `n R4,7 miljard begroting vir werk, welvaart en opleiding. Ons sal self. Jy sal self. Ek sal self. Self sorg dat die inperking MY nie inperk nie. Self ophou halfpad lewe. Self ophou toelaat dat tyd my opdeel in stukke en opvreet soos `n stuk koek. Self verby my uitdagings kyk met `n glimlag wat `n oorlog kan ontlont. Self `n plan maak. Self genoeg lees. Self genoeg leer. Self uit my gemaksone klim en nuwe dinge aanpak. Self aanhou glo. Self onthou dat ons Koningskinders is. Self die hoop wees vir ons kinders. Self aanhou hoop.
Hoop. Luister net hoe verwoord die Amerikaanse Skrywer, Rebecca Solnit, die klein woordjie in haar boek “Hope in the dark”: “It’s important to say what hope is not: it is not the belief that everything was, is, or will be fine. The evidence is all around us of tremendous suffering and tremendous destruction. The hope I’m interested in is about broad perspectives with specific possibilities, ones that invite or demand that we act.
Hope is the belief that what we do matters even though how and when it may matter, who and what it may impact, are not things we can know beforehand. We may not, in fact, know them afterward either, but they matter all the same, and history is full of people whose influence was most powerful after they were gone.”
Hoop is nie maklik en soetsappig nie. Hoop hou aan, lank nadat ons weg is. Maar hoop is nie iets wat iemand anders namens ons kan doen nie. Ons moet self.
Want, soos Israelmore Ayivor ook sê: “Having someone do certain thing for you is like getting someone to chew your food for you. It might be easier to swallow but it loses all its flavour…
And you want the flavour! For you are responsible for who you become…Love yourself, like your speed, leave your scars, live your skills…”
Self. Jy. En ekke. Ons moet self. Ons kan self. Ons sal self.
Mirna
082 779 0507
8 comments to “Ek sal self”
Baie mooi geskryf dankie mirna x
Dankie Marni!
Dankie Mirna, dit was kosbaar en het my laat dink.
Dankie Marie!
Bemoedigende stuk. Dis wonderlik dat n liedjie jou laat dink aan ons sal self en dat jy so mooi daaroor skryf.
Ek stem saam met wat jy sè.
Jy inspireer my!
Dankie Colette! Lekker om van jou te hoor!
Baie-baie mooi geskryf Mirna! Self. Jy. En ekke ook. Dankie!
Dankie vir jou, Anneri. Trots op jou journey in 2020!