Vrolike voete

Ek kon my oë nie glo Maandag nie.  Die gryskop bedelaar is terug op sy plekkie daar langs die heining van die rolbalbaan waar hy lank voor lockdown nes geskop het.   Dinsdagoggend na klas het ek hom vir die heel eerste keer van naby gesien digby die pad.  Nog steeds die welbekende verslete jas, en toe, die veterlose swart tekkie aan die een voet, die nerf-af leerplakkie aan die ander…

Twee moedelose, deurgeloopte skoene.  Ek wonder hoe vernederend dit moet voel om een oggend op te staan en te besef jy’t net twee onpaar skoene om aan te trek?

Armoede begin by die skoene, sê hulle.   Breyten Breytenbach het iewers geskryf: “Die dood begin by die voete”.  Maar ek kan nie help om te dink nie – die lewe ook… 

Dit herinner my aan die storie van die rooi skoene in Clarissa Pinkole Estés se boek “Women who run with the wolves”.  Hierdie ontstellend-hartseer verhaal vertel van `n weeskindmeisie wat vir haarself rooi skoene uit oorskietmateriaal maak…”they were crude, but she loved them, and they made her feel rich…”

Tot sy aangeneem word deur mense wat haar rooi skoene weggooi en vervang met vaalgemanierde skoene, en verwag dat sy haarself betaamlik gedra…opinieloos en stil, beteuterd, soos dit `n gewone mens sonder passie betaam.

En sy hét, ter wille van hulle…Tot op `n dag wat iemand weer vir haar mooi rooi skoene gekoop het, en toe raak sy so bly dat sy aan`t danse gaan…oor berge en dale het sy gedans, al vinniger en vinniger, tot sy nie haarself meer kon stop nie, en hulle albei haar bene moes afkap om haar weer tot stilstand te bring…  

Sjoe.  Dis `n vreeslike hartseer mondvol.  Die les?  Dat ons niemand moet toelaat om ons simboliese rooi skoene uit te trek nie – want, soos Tania Smit dit beskryf in haar Hekelwoorde-Blog:

“die deel van jouself wat jy onderdruk, sal iewers later soos `n vulkaan uitskiet – omdat jy nie veronderstel is om altyd ten koste van jouself in ander mense se raam te pas nie.”

Ek sal nooit vergeet nie hoe Mariné as vier-jarige een oggend aangedring het daarop om twee verskillende skoene aan te trek na Rosy se skool.  En nie watter skoene nie?  Daai lelike Crocs-skoene. (ek belowe op my erewoord ek het self nog nooit `n paar besit nie).  So is Mariné skool toe, `n helderpienk Croc aan die een voetjie, `n bloue aan die ander.  Daardie middag toe sy uit die klaskamer kom was sy kaalvoet, en sy`t nooit weer onpaar skoene aangetrek skool toe nie, en ek het besluit om nie te vra nie…☺

As dit kom by skoene is almal van ons mos self so bietjie sentimenteel oor sekere skoene in ons kas – ek dink aan Ben Brits, my matriekafskeid maat, wat tydens ons reünie vertel het van sy verhouding met sy weermagstewels saam met wie hy twee jaar en agt kampe deurgemaak het – basies gedoen, PT gedoen, gedril, gehol en baie ver geloop het.

Ek ontdek nou die dag weer Eswee se graad 11 opstel oor sy paar Parabellums en hul hoërskool kameraadskap.  Daardie paar skoene het nou nog `n ereplek in sy klerekas.  Wayde van Niekerk het nou die dag vertel van sy heel eerste paar spykerskoene – dit pryk nou nog daar in sy ma se vertoonkas in Athlone.  En my pa kry nou nog sterre in sy oë wanneer hy vertel van sy eerste paar rugbystewels.

Ek dink aan elke matriekmeisie wat nie hierdie jaar die voorreg gaan hê om haar goue spykerhak-sandale voor `n skare toeskouers op `n swierige loopplank te dra nie.  En ek dink aan ons ou Lizzy, met die breë paar voete en chronies opgeswelde seer enkels, wie se deurgetrapte paar Hush Puppy sandale ook as getuies dien van soveel wedervaringe in haar eenvoudige lewe…

Ek sal nooit vergeet hoe ons in Warmbad ons huishoudkunde-onderwyseres, mevrou Kriel, se gemoedstoestand elke dag aan haar skoene uitgeken het…Sy was meestal bewolk, maar ou matta, die dag wat sy haar plat wit Dove-lite slip-ons aan gehad het beter jy jou huiswerk gedoen het…want dit was haar vattiekakkieskoene…

Nataniël sê `n man dra nie skoene met sole van meer as 1cm by `n pakbroek nie, en as die skoen enige gekroomde metaal aanhet, dra jy dit glad nie (behalwe as jy navorsing oor magneetvelde doen)…☺  En tog is dit die einste Nataniël wat versot is op hoë hakke en wat dit “`n openbaring” noem, “`n veilige vesting, `n styg bo die res van die mensdom…”

Ek weet nie van jou nie, maar hierdie desperate maskertyd wat dit so moelik maak om almal te eien aan hul oë, het gemaak dat ek deesdae meer gereeld vir almal se skoene kyk!  En dit het my so bietjie kom herinner aan die bekende sê-ding: “Before you judge my life, my past or my character, walk in my shoes, walk the path I have travelled, live my sorrows, my doubts, my fear, my pain and my laughter…Remember everyone has a story, when you have lived my life, then you can judge me…”

…Gister terwyl ek my winterstewels ruil met my somerskoene – nee, nie te diep weggebêre nie, in Ermelo is dit `n baie dom ding om te doen –  het ek skoon skaam gekry oor die baie skoene wat ek nooit een keer gedra het in lockdown nie.  Ons het in daai opsig eintlik die winterseisoen heeltemal gemis, altans ek het, want ek en Schalk het meestal die grendelreëls gehoorsaam en ek het geleef in my tekkies, en pantoffels natuurlik.   

Gelukkig ken almal my al aan my oefendrag, en gelukkig het ek kleintyd ook al besef dat, soos Aspoestertjie, jare gelede, jy jou persoonlikheid met gemak in jou eie skoene moet kan inpas….`n duur les wat die nare stiefsusters dalk nooit verstaan het nie?

Maar, net soos die ou bedelaar my kom herinner het dat die lewe besig is om uit sy lockdown-gat te kruip, sê Steve gister op Facebook: “Kom Cyril, vat ons vlak 1 toe voor Oktober en vlak 0 toe voor November.  Maak ons vry voor Kersfees…” 

Teen dié tyd weet ons darem die virus SAL kwyn, die vliegtuie SAL weer die osoonlaag opfoeter, ons SAL weer spontaan drukkies uitdeel en ons SAL weer ons dagboeke gebruik.

Volgende naweek gaan ek die son sien ondergaan in Mjejane en ek gaan vir die heel eerste keer in baie jare NIE `n Blog skryf nie.  Net ontspan.  En stadig asem haal.

En dan?  Dan gaan ek seker maak ek dra al my mooi skoene sommer nog voor vlak 0.  En seker maak ek bly ligvoets loop, selfs op al daardie dae wat ek net tekkies kan dra. 

As jy mooi terugdink, hoe het hierdie 176 dae van lockdown JOU behandel?  En hoe is dit om van die huis af te werk?  Trek jy darem af en toe mooi aan, of het jy teen die tyd in traak-my-nie-care-not-se bos verdwaal?

Dan is dit hoog tyd dat jy weer `n slag wildmooi aantrek, jou lippe inkleur en jouself vier met vrolike voete.  As jy nie rooi skoene het nie, trek jou bloues aan, soos Koos Kombuis:   

vandag wil ek my blou skoene dra

want vandag is ’n blou dag,

blou soos die half-

edelgesteente van die oggendlig,

blou soos saffiere.

blou.

vandag wil ek blou

deur die lewe loop

soos ’n briesie deur ’n wasgoedlyn,

gewigloos

en geurig.

blond en blou.

blosend, bronstig,

diepblou

soos die aand wat stadig aankom

En as jy nie blou skoene het nie?  Dan maak dit ook nie saak nie.  En of jou beste paar skoene `n paar Pep-plakkies of `n paar Dolce & Gabbana satyn sandale is – Die dood begin by die voete, maar die lewe mos ook…Solank ons ligvoets loop, met vrolike voete. 

Ons geluk word nie bepaal deur Cyril of “Tandjies” of die Deutsche Bank of lockdown nie.  Geluk is in ons koppe.  En ons harte.  En ons voete!

Mirna

082 779 0507

Leave a Reply

Your email address will not be published.