BOOMHUIS-BLUES

Ons het eintlik verlede week die nuutste “Weg”-tydskrif gekoop oor die Chrissiesmeer en Tolderia foto`s, en toe lees ons François Haasbroek se kostelike boomhuisstorie raak.  En toe?  Toe galop my gedagtes op ver paaie…

In sy rubriek “Om `n boomhuis te bou”, vertel François met kleur en geur hoe hy en sy beste pêl, Willie van Tonder, jare gelede daar, op die heilige grond van die pastorie in Ladysmith, vlerke gegee het aan hul boomhuisdroom.  Na `n groot gespook om die regte boom vir hul boomhuis te vind het hul uiteindelik, plankie vir plankie, en spyker vir spyker, gestalte gegee aan hul boomhuis in die stewige, gladde takke van `n massiewe seringboom.

Hy vertel hoe hul op sakgelddae al hul munte bymekaargesit het vir boumateriaal, en hul beskryf met groot smaak al hul pret om dié droomhuis week na week te sien vorm aanneem.  Weggooigoed in die bure se agterplase het handig te pas gekom, en `n net wat Willie een vakansie op Stilbaai se strand opgetel het, het `n hangmat geword.  Later jare het hul selfs krag aangelê met `n “geleende” verlengkoord uit een van hul pa`s se kampkratte, en boonop `n “foefieslaaid” prakseer tussen die boomhuis en die nabygeleë pruimboom.

Ek verskil net van Francois oor één ding – dis nie net laaities wat boomhuise begeer nie.  In my tyd was `n boomhuis net so gesog onder die skoner geslag.  Televisie het ons eers in 1976 getref, en my ouers wou in elk geval vir lank nie byt aan dié boks met glas nie.   Ons was almal buitekinders wat fiets gery, toktokkie gespeel, kettie geskiet en die lewe ingekleur het met ons verbeelding.  Ja, ja, ons het pop gespeel ook partykeer, maar nie so gereeld nie.  Hoe anders as jy tien jaar oud is met `n beste, hiperaktiewe maatjie met die naam Pieter van Konijnenburg?  Pieter se Hollandse oupa het by hul ingewoon, en ons het nooit getwyfel in sy teorie dat daar regte dwergies bly in die rotstuin voor die Konijnenburg-woning nie.

Dit was 1977, en elke liewe kind het `n boomhuis begeer.  `n Plek waar jou heerskappy geld.  `n Plek wat buite jou ma se jurisdiksie val en wat jy nie elke dag aan die kant hoef te maak nie. `n Heiligdom wat niemand kon betree sonder die nodige toestemming nie.  Op my elfde verjaarsdag het Pa Stoffel my droom `n werklikheid gemaak daar op die plot in Unitaspark.  Tot vandag toe weet ek nog nie hoe hy dit reggekry het om dié fantastiese houthuisie, met touleer en `n dak, in die geheim aanmekaar te timmer nie.

Vanuit die hoogte het ek altyd gevoel ek kan die hele wye wêreld sien.  Smiddae teen skemer het ek my verwonder aan die bosluisvoëls in hul verbyvlug oor Unitaspark, en heimlik gewonder watter “voëltemmer” hul so mooi geleer het om die “V” vir Vereeniging te spel…(hoe moes ek weet van lugstrome en turbulensie?). 

In my boomhuis het ek blosend my eerste liefdesbriefie van my standerd 4-kêrel, Peet Roodt, gelees.  In my boomhuis het ek en my maats ure aaneen huis-huis gespeel en die touleer soms moedswillig opgetrek dat my laatlam sussie Adele en Ruth, ons huiswerker se dogtertjie, nie kan inklim nie. 

Ander dae het ek en Adele op ons rûe gelê terwyl ek haar die kleure probeer leer.  “Die wolke is?”  “Pienk”.  “Die gras is?”  “Blou”.  “Hoekom mag Ruth nie saam jou swem nie?”  “Want sy`s groen….”  Sug.☺

…My boomhuis was my sprokiesplek van waar die wêreld altyd kleiner en makliker en mooier gelyk het.  Dit was my wegkruipplek wanneer my ma die houtlepel uit die laai gaan haal het, en my troosplek waar ek my hart uitgehuil toe my pa ons kinders die nuus meedeel dat ons Pretoria toe verhuis…

Een-en-twintig jaar later het my pa weer sy boomhuisvernuf ingespan toe Eswee op vier-jarige ouderdom besluit dis tyd vir `n boomhuis op ons Bonniebraes plaas naby Lothair. 

My pa het nou nog die “planne” wat Eswee en sy boesemvriend, Eric Nkosi, “sorgvuldig opgetrek” het, en Oupa Stoffie moes een naweek al die pad van Pretoria ry, gereedskapkis en al. 

Dié slag was die boomhuis eintlik net `n platform en ook nie baie hoog in die takke van dié sering nie, want die drie-jarige Mariné wou plank vir plank help timmertok.. 

Vir dié twee blondies van ons was hul oupa Superman en die boomhuis hemels.

Ek wonder soms wat het oorgebly van dié trotse boomhuise waarin ons en ons kinders soveel kosbare ure deurgebring het…Ek glimlag ook oor die hordes ma`s wat gedurende hierdie grendeltyd al gesmag het na `n boomhuis waarheen hul net so `n bietjie kan vlug met `n koppie tee of `n glas wyn en `n mooi boek om weg te kom van skoolwerk en kosmaak en Corona.

Maar grootmense het nie boomhuise nie – ons het hartsplekke. Jy`s `n bosmens of `n bergmens of `n seemens of `n woestynmens.  Jou boomhuis is dalk die Bosveld, by `n watergat waar die diere kom drink, met die wind wat die veldgras liggies roer.  Of dalk is dit vir jou die stadslewe, met mense wat skarrel, winkelvensters wat wink en die reuk van warm teer in jou neus.

Of dalk die strand, `n poublou oseaan voor jou wat strek tot daar waar jou oë nie meer kan sien nie, met die branders wat terugtrek en breek, en terugtrek en breek, dieselfde ritme oor en oor.

…Ek kry eintlik bietjie skaam om te dink hoe ons almal ons “boomhuise” so as vanselfsprekend begin aanvaar het – die jaarlikse wildtuin- en Ballito-vakansies, die gebruiklike naweek in Mjejane, die daaglikse gimroetine saam met lekker, bekende gesigte en mooi musiek, elke Sondag se saamsing in die kerk…

…Elkeen van ons sal sekerlik `n boek kan skryf oor die afgelope 127 dae met sy onsigbare kettings. 

 Ons 9-week lange Winter Challenge het Vrydag amptelik geëindig, en iemand wou die naweek by my weet wat my sal bybly van dié 63 dae se virtuele Zoom-wedervaringe.  Ahh!  Somerlyfies is gemaak in grendeltyd!

Maar op `n ernstige noot: 

Kom ek probeer dit so verduidelik – almal weet die studio was nog altyd my hart se punt, en iets waaraan ek my nog altyd verwonder het was die spontane sosialisering voor `n klas, almal kletsend, skertsend en laggend oral in bondeltjies op die houtvloer.  En dan, wanneer die musiek begin speel vir die klas om te begin, ou matta, die luider gebabbel om laaste sinne en geselsies klaar te maak…

In `n Zoom oefenklas gebeur presies die teenoorgestelde.  Daar`s natuurlik spontane gesprekke, grappies en warm glimlagte, maar dan, etlike minute voor die klas begin – kan mens `n speld hoor val in die doodse, doodse stilte, wanneer elkeen hul klank en video afsit en wag vir die musiek om te begin speel…

En tog het hierdie tye, stoksielalleen in die studio die afgelope paar weke vir my heilige oomblikke geword, gevul met soveel dankbaarheid in die wete dat ons `n waardevolle platform gevind het om ons gemeenskaplike passie vir oefen steeds saam uit te leef, en die feit dat niemand dit van ons kan wegneem nie, was so bevrydend.

Dis egter die heel eerste keer sedert ons in 2016 ons eerste Winter Challenge geloods het, dat ons regtig besorg was oor elkeen se gesondheid terwyl die Covid-getalle weekliks gestyg het.   Gelukkig kon al drie van ons lede wat platgetrek is deur die virus genadiglik steeds daarin slaag om die Challenge te voltooi.

…Wat probeer ek sê met Boomhuis-blues? Net dit – terwyl die wêreld daar buite met elke waansinnige lockdownreël besig is om ons te druk dat ons oë traan, mag ons nie ophou lewe nie.  Ons het net een lewe.  Ons moet LEEF.  En laat leef.  Op RSG het `n sielkundige onlangs die volgende uitdrukking gebruik: “wees die tipe mens dat, wanneer iemand van jou af wegloop, hy gemakliker kan asemhaal…” Sjoe.  Mooi, né.

Mag ons asem gee en nie ophou boomhuisdrome droom en planne bedink nie, nie blasé raak oor voëls wat vlieg in V-formasies en nooit ophou glo in dwergies nie.  Mag ons die wêreld elke dag inkleur met ons verbeelding en niks as vanselfsprekend aanvaar nie.  En, in die woorde van Coenie de Villiers se lied, “hierdie lewenspel aanhou speel deur die oë van `n kind, want, al wat ons het is `n “gawe van Bo.”

Mirna

082 779 0507

 

    

 

4 comments to “BOOMHUIS-BLUES”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Colette Barnard says:

    Dis inspirerend en die tipe mens deeltjie is veral baie mooi

    • Mirna says:

      Dankie al weer, liewe Colette!

  2. Malie says:

    Pragtig Mirna,
    Baie dae gaan dit swaar , ons gemaklike lewe omver gegooi, onseker oor ons toekoms,.
    Mis my oefen , mis my insperasie plek….

    Maar ons slaan ons oë na bo en glo , in die dag van more….

  3. Lenie van Xyl says:

    Vreemde nuwe normaal.,,,,,
    Maar ons bly glo!
    Dankie Mirna!