Pa’s fees…

Wat `n lekker verskoning om op hierdie derde Sondag in Junie hulde te bring aan pa`s.  Wat `n fantastiese voorreg om vandag, 21 Junie, op Vadersdag 2020, dankie te sê aan hierdie manne wat ons die afgelope 87 dae van lockdown regop gehou het.

Want dis presies wat hul gedoen het – ons mans, die pa`s van ons kinders, het gedurende hierdie oneindige, onseker, stormagtige Covid-19 maande elke denkbare klip uit ons grendelpaaie kom rol en ons opnuut kom herinner dat hul onmisbaar is.

In ons huis is daar nog nooit `n groot ophef gemaak van dae soos Moedersdag en Vadersdag nie, maar vandag is ek eindeloos dankbaar vir Elmesu, daardie seun in Babilonië, wat derduisende jare gelede die eerste vadersdagkaart gemaak het.  Blykbaar het hy `n mooi boodskap op `n kleitablet graveer en sy pa daarmee `n lang en gesonde lewe toegewens.  

Ek dink pa-wees is een een van die moelikste take in die hele wêreld.  Veral om `n goeie pa te wees. Soos Reed Markham skryf in sy boek “Great thoughts for great fathers: Being a great father is like shaving. No matter how good you shaved today, you have to do it again tomorrow.” 

Vandag is Vadersdag `n wêreldwye instelling nadat president Woodrow Wilson van die VSA dit in 1916 goedgekeur het en president Lyndon Johnson in 1966 in `n presidensiële proklamasie verklaar het dat dit klokslag op die derde Sondag in Junie gevier sou word.

Dis my grootste wens dat die hele wye wêreld se huishoudings hul pa`s vandag so bietjie op die hande sal dra.  Soos Michael Gurain gesê het: “Father`s Day is hopefully a time when the culture says – this is our moment to look at who our men and boys are…”

Die gesegde lui “wat is `n huis sonder `n Moeder”?  Gmpf, ek weet ek kan nie namens almal praat nie, maar in Petstraat 67 het grendeltyd dubbel en dwars mooitjies kom bevestig – `n huis sonder `n vader is bôggerol niks.  En dan praat ek oor soveel meer as die vanselfsprekende manier waarop pa`s beskermhere en broodwinners is en almal se rekeninge betaal en gate toestop…

…Covid-19 se grendeltyd het duisende nadele gehad, maar die een goeie ding wat daaruit voortgespruit het, is dat ek opnuut oorweldig is met die pa van ons twee kinders se liefde vir sy gesin.  Die Amerikaanse skrywer CB Kelland het eenmaal dié mooi woorde van sy pa gesê: “He didn`t tell me how to live: he lived, and let me watch him do it…”

Ek slaan my hande saam in verwondering oor die voorbeeld wat Schalk vir Eswee en Mariné, maar ook vir my, stel.  Elke dag.  Ek dink aan daardie eerste drie weke van lockdown en hoe hy, sonder om te blik of te bloos of `n opmerking daaroor te maak, toilette geskrop, kombuisvloer gewas en wasgoed gehang het.  Dis hy wat steeds op Lizzy se af dae die skottelgoed was, tafel dek en die bed opmaak, wat `n nuwe bottel Nescafé Alta Rica in die koskas sit, lank voor dit opraak en die kinders se eksamenroosters uit sy kop uit ken.  Daar gaan ook regtig nie `n week verby sonder dat hy `n nuwe resep op die proef stel nie. 

Toe Mariné se hart met `n punt Stellenbosch toe verlang, het Schalk nie geskroom om die 1500km Kaap toe af te lê nie, en terwyl Eswee eksamen skryf, is dit sy pa wat die kragopwekker vol petrol hou en koffie aandra. 

Die slim ouens sê die band van `n pa en kind is van `n ander stoffasie as dié van ma en kind.  Hulle sê dis bietjie growwer en rowwer – ek kan nie regtig daarvan getuig nie – Schalk se hande is goedversorgde groen-houer Ingram hande, en dis daardie selfde meelsteen grootmaakhande en gerusstellende stem wat ons almal in hierdie vreemde 2020 staande hou.

Pa-wees kan nie omskryf word met `n enkele woord of selfs `n kragtige sin nie.  Pa-wees word nie gevind in mooi woorde nie – dit lê in elke klein en groot stille, liefdevolle daad, sonder ophou.  Dis in die geur van die warm koppie koffie elke oggend, dis in sy bemoedigende woorde voor `n groot vraestel, dit lê in stil-stil Checkers toe glip vir vars pynappels, avo`s en salami.  Dis in die volgepakte vleis vrieskas, die groot bottel Kalamata-olywe en in die trots en selfversekerde stem wanneer hy sê: “my dol, jy kan enigiets doen.”  `n Pa se liefde is in die optel-en-afskud na elke teleurstelling, in die aanmoedig en troos en in elke warm glimlag, selfs al is hy altyd nie heeltemal self so seker nie.

Schalk is ons kinders se held, grootste aanhanger en beste vriend, en myne ook, en daaarom salueer ek hom en elke ander pa vandag, op hierdie Vadersdag.  En elke ander dag.  My eie pappie, Chris, het ons verloor in `n grusame motorongeluk toe ek maar een jaar oud was.  Ek salueer hom ook graag vandag vir sy nalatenskap in my eie spierwit glimlag, en ook my pa Stoffel, wat ons aangeneem, grootgemaak en steeds liefhet as sy eie.

Steve Hofmeyr noem Vadersdag “bel-jou-pa-dag”.  Call your `ol man…Ek gaan my pa bel, maar ek wou so graag, soos Antjie Krog aan haar ma, ook `n gedig skryf vir pa`s, sonder fênsie leestekens.  Maar my woorde skiet te kort.  Toe lees ek Willem Botha se 2012 weergawe van 1 Korinthiërs 13 vir pa`s raak, en hier is my geredigeerde weergawe, vir elke pa, vandag:

“Al sou ek die mooiste huis in die buurt hê en met die duurste BMW rondry, maar my vrou en kinders geniet nie die weelde van my teenwoordigheid nie, dan is ek waardeloos soos `n bankkrediet met `n nulbalans.

Al ken ek al die geheimenisse van die aandelebeurs en Bitcoin, maar ek het nie die liefde om langs die baan te staan as my kinders hul harte uitspeel nie, dan het ek niks bereik nie.

`n Pa wat liefhet is geduldig met kinders wat sukkel met wiskunde.

`n Pa se liefde is vriendelik met `n kind wat nie wil rugby speel nie, hy is nie grootpraterig en verwaand oor sy kinders se prestasies nie, soek nie sy eie belang sodat sy huismense laaste kom nie en hou nie boek van hulle foute nie.

Een dag as ons kinders self groot is sal hulle verstaan wat ons hulle wou leer, en wat God ons almal wou leer.  Maar vir nou, bly geduld, aanmoediging en liefde, en die waardevolste hiervan is die liefde – die onvoorwaardelike liefde“.   

Aan elke teenwoordige pa, maar ook aan elke alleenma wat op hierdie Sondag die skoene van pa ook moet volstaan  – “Thank you, not for telling us how to live, but for living and showing us how to do it…”

Gelukkige Pa-fees!

Mirna

082 779 0507

2 comments to “Pa’s fees…”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Elna says:

    Wow Mirna ek lees nou eers jou Vadersdag skrywe! Puik gedoen!

    • Mirna says:

      Dankie, liewe Elna!