WIE SE KIND IS JY?

Dit is vandag Sondag, maar ons het nie kerk toe gegaan nie.  Al wou ons, kon ons nie.

Dit is vandag Moedersdag en ek het nie my ma gebel nie.  Al wou ek, kon ek nie.  Want sy’s weg.  Laaankal al.

Vir my is Sondag altyd `n dag van verlang…En vandag, 10 Mei 2020, verdrink ek van ekstra verlang.

…Vandag is ons drie-en-honderdsestigduisendste-dag in Lockdown.  Ja, ek het verleer hoe om te tel.  Ek het ophou tel.  Maar ek het woord gehou, en nog nie een dag vandat ons studio se deure moes sluit opgehou om ‘n Youtube-video’tjie vry te stel nie.

Gelukkig het ek die mooiste oefen-video’s in my arsenaal, en net gister, kort nadat ek ‘n “throwback”-opname van een van ons groepklasse op Instagram publiseer, kry ek twee van die mooiste komplimente:  @santie520 sê: “Ag ons is almal so dankbaar vir hierdie “throwbacks”, en Lisa Hubbard, stigter van @Rhythm Pilates sê: “What an amazing tribe you have…”

…Daarom het my verlang sommer gister al begin, want ek wonder oor my “tribe”…Verlang my dood na hulle.  Darem was dit `n blye weersiens met `n paar van hulle op ons Zoom-klasse wat die week afgeskop het, maar daar is soveel van hulle met wie ek in Maart-maand laas gesels het…Hordes van hulle is mammas, ek wonder hoe lyk elkeen van húlle se Lockdown-Moedersdag vandag.

10 Mei 2020 se Moedersdag sal sekerlik onthou word as die vreemdste Moedersdag van alle tye sedert dit ingestel is in 1906.  Geen blomme wat afgelewer is nie, geen bespreking vir gesinsetes by stylvolle restaurante nie, geen eksotiese pieknieks in Botaniese tuine nie, geen familie-byeenkomste nie.

Sommige ma’s se salarisse is gesny, ander is vasgekeer in klein spasies en baie is bekommerd en bedruk oor tuisonderrig.  Ander ma’s moet terug werk toe, lang toonnaels en uitgegroeide hare en al…

In die afgelope klomp weke het meeste ma’s se rolle vermeerder van mamma, kok, versorger en verpleegster na beste maatjie, terapeut, juffrou, sportafrigter en….MAAAAAA!

Soos Chantelle de Wet skryf in ‘n onlangse Blog:

“Maaa, kan ek roomys kry?”  ‘Dis tien oor ses in die oggend.  Ek moes jou pajamas optel, die speelgoed optel en die rou eier opvee wat jy per ongeluk laat val het.  So ja eet maar die roomys…’

“Maaa, ek het maagpyn.”  ‘Dis omdat jy roomys vir ontbyt geëet het, so gaan lê net ‘n rukkie tot dit verby is.’

“Maaa, ek is honger, maaa kan ons verf, maaa, pa sê hy`s besig, maaa ek verstaan nie die som nie, maaa kan ek by `n maatjie gaan speel….?” “Maaaaaa”. Sug.

Van een ding kan ons redelik seker wees – moeders in lockdown kan in drie kategorieë verdeel word –

  • Ma’s in lockdown, punt.
  • Ma’s met kleuters in lockdown, en
  • Ma’s met tieners in lockdown wat elke dag in hoofletters prewel – GAAN DIE SKOLE DAN NOOIT WEER OOPMAAK NIE…?

Kyk, ek is nie groot op Moedersdag nie, en as ek my sin kon kry sou ek vandag dalk eerder hulde wou bring aan die pa’s, want ek het altyd geweet Schalk is nie lui nie, maar vandat lockdown-begin het was hy die skottelgoed én die toilette, hang wasgoed op, skud die matte uit, maak kos, gaan vroeg Checkers toe vir al ons lysie-goeters en praat moed in as die moedeloosheid soos ‘n wolk om my kop kom hang.

Ek het ook die klein goedjies ontdek wat ek altyd sommer as vanselfspekend aanvaar het – dit was toe al die tyd nooit Lizzy wat die leë toiletrol vervang met `n nuwe nie.  Dis ook Schalk wat my kar se sleutel op sy plek bêre en Chloe se kosbak was…

Maar vandag IS Moedersdag, en ons bring hulde aan maaaaa`s, daarom is dit my diepte wens dat jou huismense jou ook vandag geliefd sal laat voel, al gee hul jou net so `n klein bietjie af.  Mariné het vroeg gebel uit Stellenbosch, Schalk het al twee keer koffie aangedra terwyl ek hier sit en tik en Eswee het my `n stywe druk gegee.  Vir my is dit hemels, en genoeg.  Ek voel eindeloos gewaardeer, dankbaar, bevoorreg en geliefd.

Ek weet nie hoe voel JOU hart op hierdie Moedersdag in Mei 2020 nie.  Dalk het jy juis gedurende hierdie kwarantyn-tyd begin voel jy doen als verkeerd.  Soms geskree wanneer jy sag moes praat, geïgnoreer wanneer jy moes straf, ongeduldig geraak oor deurmekaar kamers, geïrriteerd geraak oor jou oefensessie onderbreek word met `n skoolsom of moeg geraak oor die hope skottelgoed en die propvol wasgoedmandjie…

Ek glo dis okei om vir ons huismense te wys dat ons nie perfek is nie – dit help hulle om nie eendag perfeksie van die lewe te verwag nie.  Dis okei as hulle ons soms hartseer sien – so leer hulle dat ons hulle nie vir altyd teen die lewe se moeilike goed kan beskerm nie.  En dis okei as ons nie heeltyd in beheer voel nie – elkeen van ons probeer ons uiterste bes in hierdie sirkus waarin ons onsself bevind.

So, al is vandag Sondag, het ek in elk geval `n oefenvideo “gepost” (skuus vir al hierdie Engels, maar jul weet wat ek bedoel).  Ek kon aan geen beter een dink om te deel met die wêreld as Theuns Jordaan se “Wie se kind is jy?” nie.

Want ek is my ma se kind, en daar’s geen beter dag as Moedersdag om dit uit te basuin nie.  Delien en Adelé is ook my ma se kinders, en ek weet, hulle mis haar, nes ek, elke liewe dag. 

Hoe wens ek tog dat ek my ma net nog een keer teen my kon vasdruk; daardie bekende fyn gesiggie net nog een keer teen my lippe kon voel, daardie skraal vingers net nog een keer in myne kon toevou. 

Daar is elke jaar meer goed waaraan ek dink waarvoor ek nooit dankie gesê het nie.  Dankie dat Ma ons beste vriendin, lagmaat, huilmaat en sielsgenoot was.  `n Geduldige oor wat nie simpel vrae gevra het wanneer ons trane vlak gelê het nie.  `n Ma wat ons kon lees nog voor ons iets gesê het.  `n Ma wat wou ingryp as die lewe ons boelie, maar ons liewer geleer het om ons eie “battles” te baklei.

Dankie dat Mamma so onpretensieus, so opreg, so absoluut eerlik, so trots, so onophoudelik en onvoorwaardelik lief vir ons was.

Dankie vir daardie laaste wekie saam met Ma.  Al het ons nie geweet in watter uur, in daardie week van Junie 1996, die Engele vir ma sou kom haal nie. 

Ma, ek wens Ma kon weet dat die lesse wat Mams vir ons geleer het, uitgeleef word op maniere wat pen en papier nie kan weergee nie – weet net, Mamma, dis JOU rots waarop my huisie in Petstraat staan, JOU vasberadenheid wanneer ek spook met my Zoom-klasse, JOU humorsin wanneer ek met Eswee en Mariné skerts, JOU geloof wanneer Covid-19 se onsekerheid my wil pootjie.

…Dis Moedersdag.  En al is daar die mooiste liedere, gedigte en boeke al oor ma`s geskryf, weet ek dat niemand dit ooit na behore sal kan verwoord nie. 

Wie se kind is jy?  Jou ma se kind.  Jou Ma.  Ma, Moeder, mammie, maaaaaa!  Die bron, die begin en die bodem waaruit jy kon groei.  Woorde kan dit nie vashou nie.

As jy vandag so bevoorreg is om jou mammie by jou te hê, loop sê vir haar jy`s lief vir haar.  Of bel haar.  Sommer nou.  En as jy self `n ma is, onthou vandag op 10 Mei 2020, dat jy goed genoeg is, foute en al.  Goed.  Genoeg.  Want jy gee net jou heel beste.  Dis wat ma`s doen.   

Donna Ball skryf in “At home on Ladybug farm”:

“Motherhood is a choice you make every day, to put someone else’s happiness and well-being ahead of your own, to teach the hard lessons, to do the right thing even when you’re not sure what the right thing is…and to forgive yourself, over and over again, for doing everything wrong.”                                                      

Gelukkige Moedersdag

Mirna

082 779 0507

4 comments to “WIE SE KIND IS JY?”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Marie says:

    Dankie Mirna, ek glo ons waardeer almal ons moeders meer nadat ons hier gelees het.

    • Mirna says:

      Dankie, liewe Marie.

  2. Colette Barnard says:

    Dis n mooi stukkie oor moedersdag. Vreemd dat mens dit eintlik baie meer geniet so by jou huis, eenvoudig en tevrede

    • Mirna says:

      Dis verseker so, tuis bes.