BLINDELINGS

…Ek dink my ma draai reg in haar graf om as sy kon sien waar ek myself op 9 Januarie 2020 om 13.30 bevind het.  In die hartjie van Durban, by die Moses Mabhida-stadion, en nee, nie om sokker te kyk nie…om te spring.   Ek en Eswee en Zander en Mariné was oorgehaal vir daardie sprong.  “The Big Rush Big Swing” noem hulle dit – sedert 2011 amptelik die Guiness Book of World Records se hoogste swaai.  `n Hele 220m hoog…

Ek, wat nie eens in die bad spring nie, was vasbeslote om te spring.  Regtig, jy kan my familie vra.  Ja, ondanks alle wysheid en logika wat deur eeue-oue instinkte in die oorlewingsmeganismes van die menslike spesie geprogrammeer is, het ek blindelings ingestem om my lyf aan die onwrikbare wet van swaartekrag oor te gee saam met die kinders.  Né!  Betaal om te val – jy koop niks nie, jy belê niks nie en jy vat niks saam huis toe nie, behalwe jou verrineweerde senuwees, `n hoop adrenalien, deurmekaar hare en `n hartklop van 170 slae per minuut…☺

Hoekom dan, wonder jy?  Want die kinders se bravade was aansteeklik.   Want ek is 53 en dis `n nuwe dekade en ek wou dit dié slag met meer as `n sjampanjeprop en `n nuwejaarsvoorneme vier.  Want vir een keer in my lewe wou ek voel hoe voel die onmeetbare afstand tussen vrees en durf.  Want ek het besef, hierdie impulsiewe vinnige oë-toemaakwaagstuk is my heel eerste emmerskop-lys-ervaring.  Ooit.  En tyd staan nie stil nie

Elsa en Wollie verken die afgelope 7 weke al Afrika, Lizelle het al die Camino gaan stap, Eswee het al Italië platgeloop en Bobby oefen nou kliphard want sy gaan oor 4 maande die Otter tem.  Rosy en Karen het al in Kroasië op `n seiljag gevaar, en ek?  Al wat ek nog gedoen het is om die Anaconda by Gold Reef City te ry!  Ek sit met `n mond vol tande as iemand my vra oor my “bucket list”.  A nee a.  Spring sou ek spring, pappieeee…    

…En toe die anti-klimaks – Na `n lang, senutergende gewag moes ons hoor dat die geskiedkundige kwantumsprong weens veiligheidsredes nie daardie middag kon gebeur nie – die wind van 20 knope was te sterk.  Maar ons het mekaar plegtig belowe dat daardie stadion volgende jaar die voorreg sal hê om ons gillend die diepte te sien intuimel… Blindelings!

Blindelings…die woordjie was die afgelope paar weke baie in my gedagtes.  Op 4 Januarie het ons Schalk se spesiale verjaarsdag in Ballito gevier.  Weke vooraf gekonkel agter sy rug en `n groot verrassingspartytjie vir hom beplan onder groot geheimhouding en baie opgewondenheid.  Berdine en Fanie en Ronel en Jakkie en Ma Nellie het al die pad dolfynkus toe gery, en Derik en Gerts het hul mooie huis in die hartjie van Izimbali aangebied vir die geleentheid…

Daardie aand, terwyl ons met n geblinddoekte, giggelende Schalk voor langs Eswee kronkel deur die landgoed se pragtige strate, ek met my hand gerusstellend daar van agter op sy skouer, kon ek nie help om te dink aan die nuwe jaar nie.  Ons val hierdie nuwe dekade binne, blindelings gedweë en sonder enige idee wat regtig vir ons wag. Maar blindelings vertrou, soos Schalk, wetend dat ons hom lekker wou verras, so moet ons 2020 ook aanpak

Oujaarsaand op die balkon in Driftwood sê-vra Mariné: “Wat is dit aan 1 Januarie wat `n mens altyd opnuut energiek en opgewonde maak…”?  Ek dink dis hoop…En nuuskierigheid…

Soos die bekende Walt Disney gesê het: “Around here, however, we don’t look backwards for very long. We keep moving forward, opening up new doors and doing new things, because we’re curious…and curiosity keeps leading us down new paths.”

Natuurlik sou ons gister lag as ons geweet het van vanmôre toe ons beplan het aan vandag…maar dalk is dit beter dat ons nie verlede jaar die tyd geweet het dat 2019 die jaar sou word van wêreldbekerroem, Prins Harry en die Springbroekie, die Ndlovu Jeugkoor en die jaar van ons eie mejuffrou Heelal nie.  Hoera!

Want dan sou ons ook moes sluk aan die wete dat Johnny Clegg se stem sou stil word, dat Niki Lauda sy laaste wedren sou voltooi, dat Roxette se “Joyride” sou eindig en dat die Bahamas amper weer sou wegwaai. 

Onlangs skryf Koos Kombuis op Netwerk 24: “My vrou se trifle is iets om te beleef.  Dis nou `n behoorlike deurmekaarspul, `n ineenvloeiing van onherkenbare goeters en weird ontploffings in jou mond.  Trifles is soos die lewe self.  Onvoorspelbaar. “ Ons het geen idee of Donald Trump weer herkies gaan word, of Prins Harry vervreemd gaan raak van sy familie. Of Charlize Theron ons gaan trots maak met `n Oscar-toekenning en of die Proteas ooit weer `n krieketreeks sal wen nie. 

Ons weet net, dat soos elke jaar sal 2020 ook `n behoorlike trifle mengsel wees van goed en sleg, soet en bitter, mooi en lelik, heroïek en teleurstelling.  Mag jy in 2020 met nuuskierigheid en opgewondenheid die wonder van die lewe aanhou ontdek.  Blindelings.

Walt Disney sou hierdie jaar sy 119de verjaarsdag vier, en ek dink sy definisie vir blindelingse geloof bly ook die mooiste: “Somehow I can’t believe that there are any heights that can’t be scaled by a man who knows the secrets of making dreams come true. This special secret, it seems to me, can be summarized in four Cs. They are curiosity, confidence, courage, and constancy, and the greatest of all is confidence. When you believe in a thing, believe in it all the way, implicitly and unquestionable.”

Mag jy elke dag blindelings hoop.  Blindelings liefhê.  Blindelings jou hart volg.  Blindelings jou droom jaag.  Blindelings dans.  Nie moeilikheid soek nie, maar so bietjie blindelings waag.  Blindelings kans sien vir elke uitdaging.  Blindelings Glo. Blindelings leef.  En wanneer jy op jou heel bangste is, blindelings spring… Want ons moet almal maar spring – miskien nie af nie, maar deur.  En deur 2020 kan niemand vir jou spring nie – ek en jy moet dit self doen.

Mirna

082 779 0507

7 comments to “BLINDELINGS”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Rosy says:

    Dankie Mirna dis n ongelooflike boodskap en inspirasie vir 2020. Mag ons blindelings ons drome laat waar word 👏👏👏

    • Mirna says:

      Baie dankie, Rosy! Vir jou ook `n mooiste 2020!

  2. Riaana says:

    Wow Mirna…
    Ek lees nou eers die stuk… Nie omdat daar nie regtig tyd was nie…. Ek soek altyd net n langer stil wees oomblik, want soms is net 1 keer nie genoeg nie. Ek lees so dikwels jou stukke meer as 1 keer! – Jy het absoluut n slag met dié pen.
    Dankie dat jy jou lewe, jou lied en leed, so onselfsugtig deel. Jy is voorwaar n reuse inspirasie vir elke vrou…..
    In my mening gee jy aan soveel dames die hupstoot om te spring.
    Mag jy van hoogte na hoogte bons die jaar
    Liefde groete
    Riaana

    • Mirna says:

      Baie dankie, liewe Riaana, so lekker om jou stem to hoor al die pad uit die Kaap!

  3. Elna says:

    Ek sal hierdie sommer nomineer vir die Hertzogprys!

    • Mirna says:

      Jy maak sommer my dag, liewe Elna!

  4. Colette Barnard says:

    Dis baie inspirerend vir die nuwe jaar.
    Ons moet dinge blindelings aanpak, dis minder ‘wat as’ en baie meer opwindend!

    Dankie vir die mooi boodskap