Vir jou, Martie…

Ek het yskoud geword toe jy verlede week vir my dié boodskap stuur: “Ek sal nie vandag en môre kan kom oefen nie.  My man is vanoggend oorlede…”  Sommer net so.  Skielik.  Onverwags.  Bloedjonk.  Uit die bloute.  Een oomblik was jy nog besig om vir hom koffie te maak.  Jy`t vir hom totsiens gewaai by die hek.  Skaars `n uur later was jy `n weduwee.

`n Naasbestaande.   Dis nie `n lekker woord nie – dis soos insittendes, moerkoffie, stiefpa en skoonma.  Maar daar`s seker nie `n ander woord vir alleen agterbly nie. En een of ander tyd word elkeen van ons `n naasbestaande.  In een van sy blogs skryf die sanger Chris Chameleon: “Die dood is een van die voorwaardes van die lewe, `n onafskeidbare deel van die pakket.  Daar`s niks wat ons kan doen om dit te vermy nie.  Soms kom hy op so `n manier dat jy hom sien kom – ander kere tref hy jou soos `n vuishou in die maag…”

Ek het regtig nie trooswoorde nie.  Ek het my mammie verloor, maar van jou hartseer, Martie, dra ek nie kennis nie.  Dié wat dit al beleef het sê dis `n stuk van jou lewensreis met baie donker kolle, en dié wat uit kennis en ondervindings skryf sê vir hierdie rouproses is daar nie `n stel reëls wat jy kan volg en skielik is jy oor dit nie.

Vrydag het jul finaal van Boesman afskeid geneem.  Ek wou gister weet hoe dit met jou gaan, maar weet dit was ook sommer `n simpel vraag met simpel emoji-troosprentjies.  Ek is seker jy weet op dié stadium nie eers of jy kom of gaan nie, en die blote gedagte dat die voëltjies nog sing, die aarde steeds draai, die taxi`s jaag en mense steeds by Checkers indraf om toiletpapier te koop, moet vir jou seker glad nie sin maak nie..

Vandag het jy en Wikus vir Marisa gaan aflaai by die lughawe – sy vlieg terug Australië toe.  Môre gaan die huis éérs stil wees.  Ek weet nie of dit dieselfde werk met `n ma en `n mens se eggenoot nie – maar met my ma het ek geleer tyd genees nie wonde nie.  Dis sommer `n nare cliché – nee êrens langs die pad maak mens `n keuse om aan te gaan.  Aangaan, vra jy?  Hoe, ek weet nie regtig nie.

Want `n mens val op die mees onverwagte en ongeleë tye uitmekaar.  Môre sal jy dalk okei voel om te kom oefen, net om oormôre te voel jy kan nie eers jou kop van die kussing lig nie.  Dis okei, Martie.   

Dis okei om te voel dat die lewe nie vir julle drietjies nou sin maak nie.  In haar topverkoper “The pieces we keep” skryf Kristina McMorris:  The whole world can become the enemy when you lose what you love”.  Tog het ek by jou geen woede ervaar van daardie oomblik jy my die hartseer nuus meegedeel het nie.  Die manier waarop jy die afgelope paar dae met soveel eerlikheid en openhartigheid jou emosies gedeel het, was vir my `n inspirasie, en ek het regtig besef – hierdie weerloosheid maak jou eintlik sterk, omdat jy in jou waarheid staan.  Ek dink Tania Smit is reg wanneer sy skryf in “Hekelwoorde van my hart”: “Dit IS die mooiste en reinste vorm van dapperheid wat bestaan.

…Dis vir my eintlik ongelooflik om te dink dat dit skaars `n jaar gelede is wat ek hierdie Blog aan Lilly opgedra het – ek wou haar so graag moed inpraat, het haar gesmeek om met alles in haar die kanker te baklei, selfs gesê sy moet haar Summer Challenge kom klaarmaak, haar plekkie was leeg.  Ons het haar gemis.  Lilly het nie moed opgegee nie, sy WAS dapper, maar sy kon nie weer kom oefen nie, sy was net te siek…

Martie, my Blog aan jou vandag lyk bietjie anders as Lilly s`n…het ek die reg om jou te probeer moed inpraat om JOU Challenge te kom klaarmaak? Seker nie, al staan jy op `n volle 17 sessies ten spyte van die feit dat jy 2 weke gemis het.  Jy kan dié meneertjie lag-lag kom kafdraf.  Maar ek weet die Summer Challenge is op dié stadium die heel laaste ding waaraan jy nou wil dink.

Die Sweedse skrywer, Fredrik Backman, het onlangs `n baie waar ding gesê: “The mightiest power of death is not that it can make people die, but that it can make the people you left behind want to stop living.”
Dalk wonder jy vandag hoekom jy enigsins nog hier is, Martie, hoekom JY, en nie Willem nie?  Ek weet nie.  Maar ek kan aan `n spul hoekoms dink hoekom jou storie nog nie klaar is nie…

Jy het twee pragtige kinders, twee wonderlike ouers, twee ongelooflike kleinkinders en die vooruitsig om binnekort ‘n paar maande daar by hulle in die verte te wees.  Ek is nie ‘n dominee of ‘n berader nie.  Ek’s net jou fiksheidsinstruktrise, en ons mis jou.  Jou werk is nog nie klaar nie, daar`s nog te veel om te leer, te beleef en lief te hê.  Jy’t nog tyd om JOU spesiale menswees te strooi oor almal in jou binnekring, oor jou kinders, oor jou twee spesiale ouers.  En oor ons.

En dalk is dit glad nie so ‘n slegte idee om te kom oefen nie.  Al huil jy elke klas om.  Al lê jy sommer net bietjie daar op die mat en luister na die musiek.  Al lig jy nie `n been nie.  Dis okei. Ons sal daar wees vir jou.

Ek bid en glo ek dat jy bietjie vir bietjie sal heel word en vrede sal vind, tree vir tree, dag vir dag, in jou hierwees, jou seerwees en jou agterbly   

Ek weet ek kan jou nie troos nie, maar wil net hê jy moet heeltyd weet:

Whatever you need,
Whatever we can do.
We want you to know
That we’re here for you.

If you just want to talk
Or need a shoulder to cry on,
We want you to know that
We’re here for you to rely on.

So, don’t hesitate to call,
No matter what you need.
We’ll rush to your side
With all Heaven’s speed.

Jonathan Harnisch is reg as hy sê:  “Sadly enough, the most painful goodbyes are the ones that are left unsaid and never explained.”
 Maar probeer vashou aan Johannes 16:33: “God never promised us a smooth sailing, but He promised us a safe landing…”

Met liefde van al jou oefenmaats en jou instruktrise

Mirna

5 comments to “Vir jou, Martie…”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Liezel Nel says:

    Hi dis so hartseer om van Marthie se slegte nuus te hoor, dankie vir jou mooi woorde ❤️

  2. Ina van der Linde says:

    Sjoe wat n skok.. Marthie altyd glimlaggend inloop in die oggende.. ek het nie jou man geken nie maar ek verstaan jou seer vat die tyd om vertroosting te vind. Ek is so jammer vir jou verlies. Baie sterkte.

  3. Mirna says:

    Dankie liewe Liezel ❤️

  4. Rethia says:

    Sjoe Mirna……, dis baie spesiaal!

    Martie, ons weet dat jy ‘n ystertjie is….. ons kyk uit….., en sien uit om jou weer by ons terug te hê!

  5. Colette Barnard says:

    Dis baie bemoedigend. Ek is jammer vir haar verlies, dis erg om iemand te verloor