Daar word vertel dat die Amerikaanse skilder Benjamin West as ‘n klein seuntjie sy sussie moes oppas. Een oggend het hy verf in die hande gekry en haar portret “geskilder”. Hy wou goed doen vir haar, maar dit was een groot gemors. Toe sy ma terugkom het sy nie ‘n woord oor die morsige spul gerep nie. Sy het die “skildery van Sally” opgetel en gesê: “Sjoe! Dit is Sally!”, en vir Benjamin ‘n soen van dankbaarheid gegee. Benjamin West sê daardie dag het sy ma se soen van hom ‘n skilder gemaak…
Onlangs het ‘n baie slim persoon aan my verduidelik hoe belangrik die eerste agt jaar in elke mens se lewe is – hoe ons reaksie op dit wat met ons gebeur ons laat met ‘n vries, veg of vlug reaksie, en hoe dit uiteindelik ook ons volwasse wêreld beïnvloed…
Wanneer ‘n mens na die legendariese Danie du Toit van Spoegwolf se lewensverhaal ook luister, maak bogenoemde baie sin. Danie vertel dat sy eerste sangpoging op ‘n laerskoolverhoog rampspoedig was – die kinders het so vir hom gelag dat hy in trane van die verhoog afgehardloop het. In ‘n artikel onder die opskrif “`n Reënwolf se verhaal” vertel Danie self: “Ek kan onthou ek het daar gesit en gedink oukei, bogger julle almal – ek gaan nie ‘n dag laat verbygaan sonder dat ek klavier speel en sing nie” – vandag is Danie ‘n sangsensasie oor wie duisende mense gaande is.
Maar dis eintlik hierdie woorde van Danie in dieselfde artikel wat my aangegryp het: “Daar is ‘n klomp tipes “privilege” in die lewe. Hulle praat byvoorbeeld van “white privilege”, maar daar is ‘n ander “privilege” wat ek glo regtig ge-ignoreer word en dit is “happy family privilege”. Ek het grootgeword in ‘n “happy family” en dit gee vir jou ‘n voorsprong “like none other”.
…Sjoe, groot mondvol, né… Ek dink dis enige ouer se droom – dat jou kinders moet sê ons gesin is ‘n “happy family”. Maar wat is ‘n gelukkige gesin regtig? Ek het nogal baie hieroor gedink die laaste tyd… In sy boek “Jou gesin kom eerste” skryf die self-help ghoeroe dr Phil McGraw: “Gelukkige gesinne woon nie in huise nie, maar in tuistes. ‘n Tuiste is ‘n plek met liefde, warmte en aanvaarding. Dit kan nie gebou word nie, dit word geskep.” Ek dink hy is reg, en ek glo dis ‘n proses wat nooit klaarmaak nie.
Ek glo met my hele hart dat ‘n gelukkige gesin nie ‘n perfekte gesin hoef te wees nie. Dat die voorbeeld wat ons vir ons kinders stel hul vries, veg of vlugpatrone in hul kleuterjare help vaslê, maar selfs nou, veel later, neem hulle waar hoe ons dinge hanteer. Hulle kyk na wat ons eet en hoe ons reageer op ‘n slegte dag. Hulle slurp steeds die klein dingetjies op – die klein, gou vergete weldade van ‘n Whatsapp of ‘n oproep of ‘n drukkie, ‘n vriendelike kyk of ‘n kompliment. Ek glo gelukkige gesinne weet hoe om asseblief en dankie EN veral jammer te sê, en gelukkige gesinne moedig mekaar aan om hul beste self te word.
“What can you do to promote world peace? Go home and love your family”, het Moeder Teresa lank terug gese.
Op die kampus van Notre Dame staan hierdie beeldhouwerk:

Die onderskrif verduidelik dat dit die gesin simboliseer. Meer nog: vier. In “celebration” of family. Op ‘n universiteitskampus! En daar is ‘n aanhaling van George Bernard Shaw: “A happy family is but an earlier heaven.” ‘n Gelukkige gesin IS ‘n vroeë hemel. Saam met hulle is nou reeds hemel.
Een van die ander aanhalings is van Martin Luther King: “Dit is vir my maklik om te glo in ‘n God van liefde. Want ek het grootgeword in ‘n gesin waarin liefde sentraal gestaan het en waar daar altyd liefdevolle verhoudings teenwoordig was.”
Kyk bietjie weer na die beeld – val dit jou ook op met hoeveel aandag die ouers na die kind kyk? Die ma wat die kind sorgsaam vashou en die pa wat die beeldegroep anker. ‘n Mens word ingetrek, betrek, geraak. En jy kry die boodskap – OP MEKAAR INGESTEL…
In die animasie-fliek Lilo and Stitch hoor ons “Ohana means family. Family means nobody gets left behind…or forgotten…”
…Die Amerikaanse skrywer Henry Ward Beecher het eendag gesê: “Every tomorrow has two handles. We can take hold of it with the handle of anxiety or the handle of faith…” Ek wil graag altyd GLO dat ons studio se lede voel ons oefenklub is ‘n Ohana-plek, ‘n groot, lekker familieplek, nie ‘n “clan” of n kliekerige plek nie, let wel, maar `n plek waar hul tuis en goed voel, ‘n plek wat hul batterye herlaai en hul vandag EN môres beter maak…
Ek wil graag GLO dat Eswee en Mariné net so opgewonde soos ek en Schalk is oor die vooruitsig om weer ‘n rukkie by die huis te wees oor 12 dae. Ek wil graag GLO dat daardie spesiale band wat daar tussen ons twee blonde kinders bestaan altyd daar sal wees, lank nadat ons nie meer daar sal wees nie.
Ek besef mens sal altyd voel jy kon beter ouers wees as wat jy is en meer gedoen het as wat jy het, maar dit help nie om in die verlede te leef nie, want al wat ons het is nou. Net vandag. Dis nooit te laat om die voorbeeld te wees wat ons kinders wil volg nie. Dis nooit te laat om ingestel te raak op mekaar nie…
Ons moet net nie aanvaar hulle weet nie, ons moet al ons gesinslede gereeld herinner hoe lief ons hulle het en hoe trots, trotser, trotsste ons is op dit wat net ons in ons harte weet wat hulle wenners maak – en dit het niks met eerste plekke te doen nie…
Ons kan nie ons gesin kies nie, dis ‘n gegewe. Dis kompleks. ’n Dans tussen ’n paar mense wat probeer om saam ritme te hou op die meestal chaotiese, onritmiese dansbaan van hierdie lewe. Soms kry ons dit reg. Soms glad nie. Maar ek weet terwyl jy hier lees voel jy presies soos ek – My gesin is my vroeë hemel. En ek verruil hulle vir niks ter wêreld nie.
As jy nog bietjie leestyd het, knoop gerus jou binnegoed om hierdie kragtige woorde van Kahlil Gibran wat die kompleksiteit van gesin-wees so mooi voorhou:
“Laat daar ruimtes wees in julle samesyn. En laat die winde van die hemele tussen julle dans. Wees lief vir mekaar, maar moenie van liefde boeie maak nie. Laat dit eerder soos ’n beweeglike see wees tussen die oewers van julle siele…”
Mirna
082 779 0507
2 comments to “OHANA”
Aangrypend mooi Mirna!!
Dankie liewe Mariette!