“Hoekom moet ék praat op Pa se verjaarsdag?”, wil ek weet so `n paar weke gelede toe ons drie dogters my pa se 80ste verjaarsdagpartytjie reël. “Want jy’s die diepste”, skerts Adéle, “die res van ons is `kiddies pools`…” ☺☺☺ Ek moet sê, hierdie bloginskrywings self het nogal diep geraak – ek is heel verbaas Huisgenoot het my nog nie gevra om `n “Sake van die hart en ander organe”-rubriek te begin nie…
So dié week raak ons heeltemal oppervlakkig en praat oor gastronomie – het jy geweet dié groot woord beteken die sielsbetekenis van eet? Toemaar, ek ook nie. Gastronomie het ontstaan toe die mens voedsel en drank begin verorber het vir die smaaklikheid daarvan, en nie net bloot om sy honger te stil en sy dors te les nie. ”Die sagte kuns van lekker eet is ‘n vriendelike een. Dit oorkom die taalgrens, maak vriende en verwarm die hart”, het die wêreldreisiger Samuel Chamberlain jare gelede opgemerk.
Vir meeste van ons is nostalgie en kos onlosmaaklik verweef. Wanneer ons in die kombuis is, bring ons herinneringe met ons. Kos gee kleur en karakter aan ons lewens en ons stories. Wanneer ek dink aan my kinders se blitskuiertjies uit Stellenbosch, koester ek daardie langsaam etes elke aand om die kombuistafel. Dros sê in hul leuse op die groot advertensieborde – JOU MA SE KOS. Jong, in ons geval dink ek Eswee en Mariné kom dalk eerder huis toe vir Pa se kos, en Ouma se kos.
Dit laat my dink aan die gesin wat een Sondagmiddag by Ouma eet. Net toe almal aan tafel is, begin Ouma opskep. Toe Jannie sy bord kos ontvang, begin hy dadelik eet. “Jannie, asseblief!”, maan sy ma. “Wag asseblief tot ons gebid het.” “Ek hoef nie”, sê hy dadelik. “Natuurlik moet jy!”, antwoord sy ma. “Ons bid altyd voor ons by die huis eet.” “Ja, maar dis by ONS huis”, verduidelik Jannie. “Maar hierdie is Ouma se huis, en sy wéét hoe om te kook…”☺
Maar nietemin – julle weet wat ek bedoel. Lekker eet bly lekker, en of dit `n Michelin-ster feesmaal, `n steak op die kole of “baked beans” op roosterbrood is – as dit met liefde voorberei is, smaak dit NOG lekkerder. Selfs Prediker 9 sê nie, hy beveel: “Gaan dan heen, eet jou brood met vreugde, en drink jou wyn met ‘n vrolike hart…” In `n TV-onderhoud vertel Nataniël onlangs dat sy ouma ‘n leuse gehad het: “Môre kom die oorlog, so vandag eet ons alles!” Nataniël sê dis nie SY leuse nie, maar hy glo dat mens elke dag iets fantasties moet eet, iets fantasties moet doen en ‘n uur met iemand fantasties in jou lewe moet gesels…
…Meeste van ons kom uit gesinne waar kos meer is as iets wat net geëet is. Kos was vir troos, vir gesels, vir debateer, vir feesvier en sommer net vir lekker. Waar het die stryd rondom eet dan begin – dit wat veronderstel is om eenvoudig, biologies natuurlik en lekker te wees? Waar het dinge dan verkeerd geloop?
In haar boek “Yes, Please” beskryf Amy Phoeler dit so: “If you want to see heaven, watch a bunch of young girls play…” Onthou jy nog hoe ongeërg jy was op 10 jaar, dolgelukkig en salig onbewus van hoe jou lyf lyk? …In ons huis was daar altyd `n groot plastiese visbak propvol lekkers – dit was nie `n taboe-ding nie, nooit. Ek het my altyd verstom hoe my maats die inhoud van dié lekkergoedbak kon verslind – ja, altyd reguit visbak toe as hul kom kuier het. Dit was eers later wat ek verstaan het dat dit my ma se manier was om ons te leer dat ons dit kon hê, maar onbewustelik self besluit dat ons dit nie nodig het nie.
Ek onthou hoe ek een middag in Desember Kersfeeskoekies gebak het by `n maat se huis. Haar ma het gesê: “Onthou, Soentjies (dis nou daai Kersfeeskoekies gemaak uit hoofsaaklik suiker en botter) maak vetrolletjies, en vetrolletjies maak la-a-a-ng traantjies…” Ons het nie `n benul gehad waarvan sy praat nie, lekker gelag en nog `n paar Soene gehap…
Waar het dinge verkeerd geloop? Ons het eerstens te besig geraak…
“I`m too busy to chew. That`s why I blend all my meals into smoothies”,
Jarod Kintz
Gryp gou ‘n broodjie voor werk, eet ‘n handvol grondbone terwyl ons nuus luister en wag vir die ketel om te kook. Eet vinnig, in die hardloop en hoop jy gaan nie sooibrand kry van die pakkie Lays nie…
En tweedens – êrens langs die pad het ons onsself begin wysmaak dat eet ‘n vetmakende, verbode troosmiddel is. Hoekom anders soek jou hand vir iets om te eet in die laai as jy hartseer is, steek jy jou neus in die yskas as jy de dinges in is én beloon jy jouself met `n oliebol as jy `n kilo afgeskud het?
…Ek kry elke dag met vroue te doen wat `n stryd voer met hul gewig. Dan is hulle maer, dan is hulle vet, dan verloor hulle ‘n paar kilo’s, dan tel hulle dit weer op. “Ek raak te behep met die gewegery”, sê `n vriendin onlangs nadat sy drie verskillende lesings op haar nuwe skaal gekry het na gelang op watter teël sy die ding neersit in die badkamer.” “Ek wil graag mooi lyk op my kind se troudag”, wens ‘n ander. “Ek wil net graag my skoenveters kan vasmaak sonder dat my pens in die pad is”, swymel nog een.
Ek dink dis waarna Amy Phoeler verwys in die hoofstuk “plain girl vs The Demon”: “I hate how I look. That is the mantra we repeat over and over again. That voice that talks badly to you is your demon voice that shows up in your bedroom mirror one day and refuses to leave. It tells you that you are fat and ugly, and the scary part? That voice is your own voice…The good news is that there are ways to make it stop talking…”
Volgens Xenia Ayiotis, `n leefstylafrigter van Pretoria wat spesialiseer in bewustelik eet (mindful eating, dis die slim Engelse woord), eet die gemiddelde Suid-Afrikaner, afgesien van ouderdom en geslag, elke jaar `n halfton kos! Eet moet ons eet, anders kom ons om. Ons kan die ervaring net sowel geniet. Dink bietjie, wanneer laas het jy die geure so bietjie in jou mond laat talm voor jy die volgende happie vat, hmmm? Deegliker kou, stadiger eet, nie glo alles wat in jou keel afgly gaan om jou bobene versamel nie. Lief raak vir gesond eet, vir brandstof eet, bietjie minder eet? Ja, altyd! Maar soms, sommer net lekker eet!
Die winter is om die draai. Voor die koue toeslaan moet ons leer om so `n bietjie op `n nuwe wyse aan te sit, anders gaan ons oor 3 maande weer la-a-ang traantjies huil. Aansit soos die gastronomie kenner en sjef Ruth Reichl wink: “Pull up a chair. Take a taste. Come join us. Life is so endlessly delicious. Just remember, you are what you eat, so don’t be fast, cheap, easy or fake…”
Mirna
082 779 0507
3 comments to “Gastronomie”
Pragtige stuk, en baie waar! Ek het dit baie geniet!
Baie dankie, Colette! Mis vir julle!
As ‘n volslae “foodie” het ek hierdie baie geniet 🙂
Dankie Mirna