DIE ONAANTASBARES

Nee, dié is nie `n uittreksel uit Steve Hofmeyr se spannende roman nie, dit gaan maar net oor onaantasbaarheid…Ons weet hoe die legendariese gholfspeler Tiger Woods se onaantasbare gholf-triomftog in 2009 plek gemaak het vir persoonlike skandale, 3 knieoperasies, 4 rugoperasies, `n pilverslawing en `n horde artikels waarin hy afgeskryf is… Twee jaar gelede het Woods aan een van die vorige Meesterswenners gesê: “Ek het gedink ek`s onaantasbaar, maar nou`s ek klaar.  Ek sal nie weer gholf kan speel nie.”  Tuis het sy kinders groot geword met `n pa wat na sy motor gehelp moes word, uit die bed moes rol en snags met `n bedpan op die vloer moes slaap.  Vir hulle was hy net `n YouTube-wonder…En toe, verlede Sondag, `n volle 131 maande na sy 14de major-triomf, het Woods op Augusta een van die grootste sprokiesverhale wat gholf tot dusver gesien het, geskryf, toe hy die Amerikaanse Meesterstoernooi met een hou gewen het. 

Vir jare het die gedagte dat sy kinders nooit in lewende lywe een van sy groot oorwinnings beleef het nie, hom aangevuur om net nog een keer die hoogste piek in wêreldgholf te bereik.  Sondag het hulle, die langbeen 11-jarige Sam, en Charlie, `n grootoog-tienjarige hom trots ingewag…

Onaantasbaar, so het die reuse van Fiji se span verlede Sondag gelyk in die finaal van die Singapore sewes-toernooi teen ons Blitsbokkies.  Ons manne se agterstand van 0 -19 halftyd het hulle egter nie van stryk gebring nie, hulle het moedig terugbaklei en met 20 -19 geseëvier.  “Greatest comeback ever”, het die Citizen berig.  “Historical victory”, het elke ander dagblad dit uitgejil…

Onaantasbaar, so was die pragtige Notre-Dame katedraal in Parys vir 850 jaar, tot Maandag, toe die wêreld in skok gekyk het hoe `n woedende vuur groot dele van die simboliese gebou verteer.  Hierdie gebou was meer as net `n Middeleeuse gotiese kerk – dit het gewelddadige revolusies, verowerende diktatorskappe en twee wêreld oorloë oorleef – en toe brand dit, sommer net so…

Onaantasbaar – so dink ons moet ons rolmodelle wees.  Ons weet goed hulle is feilbare wesens, maar ons plaas hulle al te graag op troontjies as hulle `n bal kan skop of `n noot kan sing of woorde mooi kan opsê wat iemand anders vir hulle geskryf het.   En dan, die dag as hulle van daai troontjies afval, is ons geskok.   Ja, ons rol ons oë tot ons kopseer het oor Kurt Darren die stem verkeerd sing by Intervarsity, oor prins Harry en Meghan moet trou en oor Derick Hougaard al weer vir Nadine verneuk het.  Maar ons vergeet dat ons rolmodeltroontjies nie uit klip gekap is nie maar uit klei.   Net soos die klei waarin ons met ons eie ou voetjies staan…

Hierdie naweek vier ons Paasfees en ek dink daarom het die idee van onaantasbaarheid opnuut by my opgekom…Daar`s net EEN wat regtig onaantasbaar is – Hy wat die graf oorwin het..Die res van ons?  Ons is nie eens openbare figure nie, maar ons dink ook ons is onaantasbaar.  Ons is vinnig met die tong, stadig met deernis oor almal in die dorp se kaperjolle, terwyl ons self leef asof ons onaantasbaar is.   Ons gedra ons asof ons onaantasbaar is en ons praat asof ons onaantasbaar is… Vir wat?  Hoekom?  Is dit die onderwysstelsel se skuld, wat kinders met `n eiewaan van onverantwoordelikheid en onaantasbaarheid grootmaak?

Is dit ons as ouers se skuld?  Stel ons nie meer vir ons kinders `n voorbeeld van `n omgewing waarin moraliteit, liefde en respek floreer nie?  Of is dit die samelewing se skuld, waar die leiers van ons dorp en ons land hulself verryk sonder integriteit, orde en trots, en ons onbewustelik in `n kopklem beetkry wat sê:  dis okei om 150km per uur op die snelweg te ry as jou motor `n duur BMW is, dis okei om nog `n drankie te drink voor ek agter die stuurwiel inklim, of dis okei om jou huweliksmaat te kwets met als wat jy doen en sê?

Ek weet nie, dalk is dit sommer net ons eie skuld.  Want onaantasbaar beteken ook verhewenheid.  Ons dink ons is onafhanklik, ons het genoeg geld, ons is blakend gesond, ons is mooi genoeg, ons is beseringvry, ons het sekuriteit, niks of niemand kan ons bykom nie.  Koning van ons eie miskoek, “hero” vir die res en onaantasbaar.

Maar ons is so ver verkeerd.  Niemand is onaantasbaar nie, niks, of niemand nie.  Nie een van ons nie.  Nie Hansie Cronje, of Lance Armstrong, of Oscar Pretorius, of Fiji se sewes rugbyspan, of Tiger Woods, of Kurt Darren, of die Notre Dame-katedraal nie. 

So, dalk moet ons net dit onthou – onaantasbare mense?  Nee, sulke wesens bestaan nie.  Die wêreld swaargewig-bokskampioen, Anthony Joshua, het onlangs gesê:

“People have built me up to be untouchable, unbeatable, invincible, and I’m not that. I am a man, and I am a winner, but that can change in a second. “You cannot live when you are untouchable. Life is vulnerability.”

Hulle wat die katedraal in ligte laaie beleef het, sê daar`s twee beelde wat nog lank in baie mense se geheuens gegrif sal staan.  Die een is die van die vlamme wat hoog bo die dak van die bouwerk uitslaan en alles verteer en die waterstrale van die brandweer wat onophoudelik, maar skynbaar tevergeefs op die vlamme spuit.  En mense wat in die strate staan en huil…

Die tweede is van die binnekant van die katedraal ná die brand. Die rook dwarrel nog in die lug. En daar aan die voorkant spríng dit in jou oog soos ’n skerp lig: Die goue kruis wat bo die altaar hang, verlig deur die gloed van die oorblywende vlamme, wat uitdagend sê: Ek is wie ek is, was en altyd sal wees.

Net daar, daar waar ons geplaas is, nes die katedraal, kan ek en jy `n verskil maak.  Met `n onaantasbare gees… Ons hoef nie Demi Lee Moore te wees wat `n roerende toespraak afsteek by die Ghoema-prysuitdelingsaand nie.  Ons hoef nie “die Land” kliphard saam met Steve en Bobby te sing nie, nee man, ons moet net opnuut besef dat dit tyd geword het dat ons land se kinders weer soos hul ouers moet WIL wees.   

In haar aandoenlike outobiografie, Kanker schmanker, skryf Madelein Rust: “`n Kale vlakte waar my regterbors eens was.  Ek maak my oë toe en laat my brein toe om te proe aan hierdie monumentale ding.  Kanker schmanker, besluit ek.  Ek is nog net soveel vrou soos voor die operasie.  My vroulikheid het toe al die tyd nie in my bors gesit nie.  Dit sit in my kop, in my hart. In daardie onmeetlike, onaantasbare iets wat gees genoem word….”    

Mirna

082 779 0507