Vloekfiks*

*nie bedoel vir sensitiewe lesers nie, punt.

Dit sou `n skande wees om dié week nie oor Marelize te skryf nie.  En as jy nie wéét van Marelize Horn nie, gaan jy regtig met oogklappe deur die lewe…Die hele wêreld het dié week saamgelag nadat `n video op sosiale media beland het waarop Heidi Horn, `n 48-jarige ma van Namibië `n moerawiese kragwoord los nadat haar 19-jarige dogter met haar fiets in `n rugbypaal vasry.

Die eerste ding wat almal by hulle wou weet nadat die lagtrane afgevee is, is waarom Marelize op die ouderdom van 19 steeds nie kan fietsry nie.  Toe sy so 7 jaar oud was het sy `n fiets met ekstra wieletjies gehad. Die fiets is gesteel. “Ons het net nooit daarby uitgekom om dit te vervang nie”, vertel Marelize se pa, Tiaan.  Hulle weet nou nog nie hoe’t die video op sosiale media beland nie, dis ook nie die enigste video van haar wat van daardie geleende fiets afval nie…Marelize wil au-pair werk gaan doen in Amsterdam, en die familie daar vereis dat sy met selfvertroue kan fietsry.  Marelize het uit radeloosheid op die rugbyveld gaan oefen omdat sy te veel op die teerpad neergeploeg het. Marelize se ma het dié video in Desember gemaak om vir die agentskap te stuur, min wetende dat dit wêreldwyd sou opslae maak…☺☺☺

Maar jy weet natuurlik waarom ons dié video net weer en weer wil kyk, en elke keer van voor af skater, né?  Die in-die-paal-vas-ryery is bysaak. Dis daardie spontane “My f*k, Marelize” aan die einde waaroor ons gaande is.  Hoekom? Dis dan `n vloekwoord. Hang seker af hoe jy daarna kyk…

`n Mens kry vloek, en jy kry vloek…Soos die gesinnetjie van Danville wat op die Pilditch-pawiljoen sit…Terwyl almal in spanning wag vir die kadetorkes om die atletiekbyeenkoms amptelik te open, gil die seuntjie: “Mamma, nou “wannir” kom die f*ken kadette dan?”.  “Hey, moenie so vloek nie”, bulder die ma. Fronsend vra die seuntjie: “Is kadette dan `n vloekwoord, ma?”

`n Mens kry mense wat regtig nooit vloek nie – nie eens as hulle hulle tone stamp, of as iemand oor `n rooi lig voor hul inry of as `n rampokker hulle handsakke gryp nie.  Nooit nie…Sulke mense is dun gesaai en `n voorbeeld vir die res van ons. Maar hulle bestaan. Ek ken sulke mense. Dan kry jy mense wat heeltyd vloek – jou ore tuit letterlik van die drie- en vierletter F, P, K en D woorde wat by hul monde uitkom, kompleet soos AK-47`s wat outomaties afgevuur word.  Sies!

En dan is daar die res van ons.  Meeste van ons het groot geword in huise waar vloek nie die Eerste Doodsonde was nie, Ons is geleer om mooi en suiwer Afrikaans te praat, maar Ouma en Oupa en Ma en Pa het met tye bewys dat teorie en praktyk nie altyd bymekaar uitkom nie.  As ek my oë toemaak speel hierdie scenario`s uit my laerskooldae hulself weer voor my af, stemtoon, gesigsuitdrukking en al: “Die blêrrie kalkoene het al weer op die stoep gesk*t”, kla Ouma. “O jou m**r”, brul my pa, net daar in die skoolsaal, voor almal, toe hy wou gaan sit en vergeet hy`t die stoel opgeslaan (tot groot verleentheid van die hele Burger-gesin, dis nou ons).  Ek is nou heilig bed**nnerd”, hierdie kamers moet NOU aan die kant”, maan my ma met die houtlepel in die hand na sy al drie keer gevra het…

Maar die f-woord?  Dié was `n groot taboe.  Maar “mind you”, TOE was daar nie beurtkrag nie, die Bokke het nie so baie verloor nie en toe was daar nie slaggate in die strate, swak diens en toustanery nie.  En jy vra nog hoekom verkreukel ons onsself so in Heidi Horn se ikoniese “My f*k Marelize…”? Want ons kan daarmee identifiseer. Almal van ons. En die manier waarop sy dit sê, is soo lekkerrrr, dit rrrrol van die tong af.  Dit herinner ons dat ons taal `n lekker taal is. `n Taal wat nie regtig warrie of dit jou laat slim lyk of klink nie. `n Taal waarin jy soms net doodgewoon kan sê wat jy wil, wanneer jy wil en hoe jy wil.

Elke jaar stuur hulle (dalk h*lle, want niemand is seker wie hulle is nie) `n lysie rond met nuwe woorde.  En elke jaar dink ek dié keer gaan daar dalkies `n paar nuwe vloekwoorde verskyn…Want ek stem saam met die digter-skrywer Hans du Plessis: “Afrikaans is die taal waarin ek kan bid en die taal waarin ek kan vloek.  Ek kan in my blyste oomblikke net Afrikaans wees, ek kan in my rouste oomblikke net Afrikaans wees. En ek kan, wanneer alles afgedop en weggeneem en blootgelê is, net Afrikaans wees…”

Natuurlik is dit beter om te sê, “O vrek, ek het van die koorgeld vergeet”, “die blikskottel het voor my ingery”, of hy moet eerder boggerof voor ek dit verloor…” Maar ai, meeste mense is dit eens dat dit partykeer doodeenvoudig beter uiting aan ons emosie gee om daai woord te sê wat gepaardgaan met die uitdrukking “maak soos `n polisiekar…”  Dalk is vloek soos muskiete en onkruid in die natuur, dis daar omdat dit nodig is, anders sou dit nie daar gewees het nie…

Sou drie mense die video gekyk het as Heidi Horn gegil het: “Ag toggie, Marelize.”???  Ek twyfel. Want daardie leenwoord f*k en sy familie, bly een van die interessantste, kleurvolste woorde in Afrikaans.  “Dis een van die min woorde wat die funksie van byna alle woordsoorte kan vervul”, skryf prof Johan Combrink, voormalige Voorsitter van die Taalkommissie.  Die voorbeelde is eindeloos en ek wil jou nie daarmee verveel nie (ook nie ontstel nie). Maar hier`s net `n paar, uit die pen van Combrink homself: Onoorganklike werkwoord(ag f*k), hoofelement in`n hele reeks skeibare werkwoorde (aanf*k, voortf*k, agernaf*k).  Selfs ook as invoegsel (onge-f*ken-looflik), en wanbegrip (f*k weet), ens ens ens ens.

Meeste mense wat ek ken, het al erken dat daardie vreeslike F-woord soms, op sy tyd, soos brood en konfyt is.  Navorsing het onlangs bewys dat 74% van ma`s erken dat hulle af en toe voor hul kinders vloek. In haar Blog “Floekvout”, skryf die spitsvondige Chantelle de Wet dat studies verder bewys het dat ouers wat vloek, oor die algemeen eerliker is met hul kinders en gemakliker verhoudings met hulle het.  Ook dat eggenote wat vloek se huwelike langer hou, want sielkundiges reken dat vloek ook maar emosionele gesprekke is. Oor die statistiek dat vrouens wat vloek langer lewe, is ek nie heeltemal seker nie, maar ek dink regtig nie dis onmoontlik nie…  

…Die Amerikaanse prediker Tony Campolo het op `n dag drie dinge aan sy gemeente gesê:  Die eerste was dat 30 000 kinders dood is van die honger terwyl die gemeentelede geslaap het.  Tweedens het hy die uitdrukking “don`t give a sh*t” gebruik om vir die gemeente te sê dat die meeste van hulle nie omgegee het daaroor nie.  En derdens was dit die ergste dat die gemeente meer ontsteld was om dat hy sh*t gesê het as oor die 30 000 kinders wat omgekom het.

…Ek beskou myself as meer lyffiks as vloekfiks, maar ek vloek as ek bitter kwaad is…en ek gebruik soms die krag van `n woord om ongekende vreugde uit te druk…Want soms, as iets fantasties is, is dit regtig bef*k…Finish en klaar.  Ek weet nie van jou nie, maar daardie “My f*k “van Heidi Horn het sommer namens my gepraat – man, sommer namens alle mense met streng spertye, lang werksdae, derms wat pyn en klein kindertjies wat “mammmammamamma…”

Ek sê nie ons moet die f-woord regs en links rondslinger nie en ons kinders aanmoedig om soos matrose te vloek nie.  Daar`s `n tyd en `n plek vir alles. En ons taal bepaal elke dag of ons respek afdwing. Respek, nie vrees nie. Maar dalk moet ons net meer ontsteld raak oor dit wat regtig saak maak…

Mirna

082 779 0507

8 comments to “Vloekfiks*”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Linda says:

    Ek het hierdie nou baie geniet. Jy mag maar. Dankie vir jou skrywe.

    • mirna bothma says:

      Baie dankie Linda! Dankie dat jy lees!

  2. Theuns says:

    Weereens lekker gelees aan di stuk jy is uitstekend goed. Theuns

    • mirna bothma says:

      Baie dankie, Theuns! Dink dis meer eerlik as goed, maar baie dankie vir jou kompliment!

  3. Ruanette says:

    “Is Kadette dan n vloekwoord Ma?” het my gebreek…. Hahaha…. 🤣🤣🤣
    Baie baie goed geskryf! Ek’t nou baie lekker gelees en lekker gelag! 👌🏻

  4. Annelize Prinsloo says:

    My f*k maar dit was nou goed geskryf. 😂 Dankie het dit nou geniet.
    Definitief ook een van my gunsteling woorde om emosie uit te druk op ‘n passievolle manier.
    Goeie week vir jou x

  5. Mirna says:

    Dankie Ruanette!!!

  6. Mirna says:

    Nee, Annelize jys een van daai mense wat nooit ‘n vloekwoord gebruik nie!!!! Hiehie