“Her smile could wash away a thousand doubts and light up a room”, skryf Belinda Jeffrey in haar boek “One Long Thread”, oor haar hoofkarakter, Ruby Moon.
Dis presies wat ek vandag van Mariaan wil sê… Mariaan het elke vertrek, elke mens, elke dag, gevul met haar energie, haar lag, haar spitsvondigheid, en soveel meer …
My en Mariaan se paadjies het in 1991 gekruis, toe ek as jong onderwyseres by die EHS begin skoolhou het. Ek het Mariaan by die tennisklub ontmoet, en sy het my dadelik onder haar vlerk geneem. ‘n Mens kon nie help om sommer net vreeslik baie van haar te hou nie. Daar, op die houtpawiljoen by die klub, het Mariaan een Saterdag middag gesê: “Jy weet, Mirries, ek het so mooi vir die Here gevra: ‘Here, kan ek nie asseblief nog kinders kry nie?’ Toe sê Hy: NEE!” “Toe vra ek Hom: “Here, kan ek nie dan maar net ‘n goeie “backhand” kry nie?’ Toe sê Hy: NEE!”
Mariaan is die enigste mens, ooit, wat my “Mirries” genoem het. Daardie naam het my altyd laat voel of daar so ‘n stukkie son binne-in my hart val. Ons was nie boesemvriendinne nie, maar Mariaan het oral, en altyd, tyd gemaak vir ‘n geselsie. Ek het aan haar lippe gehang, en sy het my keer op keer laat skaterlag – daardie uit-die-maag-lag – wat lank na die tyd nog om jou mondhoeke bly krul.
Mariaan het voluit geleef, en voluit gepraat. Sy het nie net haar eie kwota 20 000 woorde per dag voluit benut nie; ek dink sy’t baie dae sommer Petrus s’n ook opgebruik! En dis Mariaan se stories, haar duisende stories, diep en snaakse en eerlike stories, prontuit stories, en soms lag-met-traan-stories, wat haar so onvergeetlik gemaak het. Mariaan het ook nooit dieselfde storie twee keer vertel nie …My stories van Mariaan is maar ‘n druppel in die emmer, daarom het ek en Lizelle, een van Mariaan se vriendinne, sommer Dinsdagoggend na klas daar op die verhogie platgeval, en oor Mariaan gemymer…
Mariaan was ‘n mense-mens, met ‘n opregte belangstelling in elkeen. Dit het deurgeskemer in haar vriendskappe, maar ook in elke mens wie sy op haar lewenspad ontmoet het.
Mense het as gaste opgedaag by haar “Drinkwater” gastehuis – hulle het vertrek as vriende vir altyd. Ek glo “Drinkwater” was vir Mariaan ‘n roeping, ‘n plek waar sy met haar gasvryheid en oop hart menige vriende, en vreemdelinge, se “dors” geles het. Angel en Christina, Mariaan se twee helpers, het kwansuis elkeen ‘n kursus in massering voltooi. Dit was maar net nog een van die sorgsame maniere waarop Mariaan na mense omgesien het.
Een van die kosbaarsste stories van Mariaan, is dan ook ‘n gastehuis-storie …’n Paar jaar gelede het ‘n gesinnetjie uit Frankryk in die gastehuis oorgeslaap – ‘n jong man met drie kindertjies. Hy het sopas sy vrou, en die kinders hul mamma, verloor aan kanker, en die pa het besluit ‘n vakansie in Suid-Afrika sou hul al vier goed doen. Tydens hul terugkeer van die Krugerwildtuin het hul by Drinkwater oornag. Daardie aand hoor Mariaan die jongste troosteloos snik …Haar speelgoed-hasie, die laaste geskenk aan haar van haar sterwende mammie, het in Satara agtergebly. Teruggaan was onmoontlik – die gesin sou die volgende dag terugvlieg na Frankryk…
Getrou aan haar gedetermineerde aard, het Mariaan, sonder huiwering belowe – sy sou daardie hasie terugkry, en persoonlik in Frankryk gaan terugbesorg. Dit klink amper onmoontlik, maar Mariaan het dit reggekry, en gedoen. Sy en Petrus sou gelukkig etlike weke later reis na die buiteland – maar hulle het summier hul vlugplan verander, en daardie kinderhartjie gaan verras…
Ek dink ons sou boeke kon volskryf oor Mariaan – elkeen van ons het ons eie skatkis vol stories oor haar, en van haar. Eintlik was Mariaan ‘n storie op haar eie; vol lewe, lag en liefde. En wat ‘n voorreg vir my, om vandag eer te betoon aan hierdie mens wie soveel lig in al ons lewens gebring het…
Vir Mariaan het mens altyd hoor aankom – ‘n ekstrovert met ‘n luide stem, en ‘n sterk wil, maar agter daardie krag was ‘n hart van suiwer goud. Sy het elke mens laat voel – ek maak saak.
Mariaan het nooit net gepraat nie – dit het altyd gevoel of sy lewe in woorde blaas. Sy het dinge anders gesê as gewone mense, en het ‘n gawe gehad om met woorde en humor sin te gee aan enige alledaagsheid …Dinge waarmee vroue daagliks worstel, soos hormone en ouderdome en gloede en geite, kon sy skets op so ‘n manier, dat ons gelyktydig kon lag én onsself herken – sonder oordeel, net met lightheid en waarheid.
Ek onthou so goed ons gesprek, eendag in Checkers. Mariaan het gesê: “Mirries, nee, ek het net gister my dokter gebel en gesê, ‘Dokter, nou moet jy help! Elke oggend wanneer ek wakker word is Petrus vir my leliker!” Haar humorsin was onweerstaanbaar!
Ek het geweet sy skerts net – haar man, Petrus, haar enigste seun Nico, haar skoondogter Lydia, en haar twee kleindogters, Astrid en Talitha, was haar alles…
Mariaan was ‘n mooi vrou, en jy kon haar altyd deur ‘n ring trek. Maar sy was ook ‘n reguit mens, en jy het altyd geweet presies waar jy met haar staan. Ek dink sy’t ons almal so bietjie op ons tone gehou. Sy was ‘n talentvolle vrou wat elke ding met passie aangepak het – ‘n bobaas wolkenner met ‘n ongelooflike talent vir breiwerk, ‘n geliefde dosent, en ‘n hart wat vuurwarm geklop het vir die plaasskool.
…Ons moes nogal kopkrap om presies uit te werk wanneer Mariaan se paadjie met kanker begin het, en ek dink dit was juis omdat sy so selde oor haar siekte en al die nagevolge van die behandeling gekla het …Petrus se motorongeluk was op 6 November 2013 – presies ses maande later is Mariaan met kanker diagnoseer.
Haar hele lewe, haar hele kankerverhaal wat oor 13 jaar gestrek het, is een groot, wonderbaarlike getuienis van oorwinning. Ek het dikwels so na haar geluister en by myself gedink: “Mariaan, jy, is verseker die Hemelse Vader se witbroodjie.” Ek kon my verluister wanneer sy met gemak en soveel liefde vertel, hoe die Here haar gereeld op haar lewenspad, pertinent en persoonlik, met Skrifgedeeltes bedien.
Eenmaal, tydens die soveelste chemoterapie-behandeling, toe ‘n suster by die onkologie-afdeling vir Mariaan sê: “Mevrou, skuif gerus op en sit gemakliker terug in die stoel”, het Mariaan geantwoord: “Nee, hierdie plekkie langs my, dis die Here se plekkie …”
Mariaan, jy het die gawe gehad om elkeen van ons te laat voel ons hoort – bloot net deur te wees wie jy is. Jy het hierdie stryd gewen – want jy het nooit jou lig verloor nie. Jy’t jou pad met moed, innerlike krag, en blymoedigheid geloop, en dié pad het spore gelaat in almal van ons.
Ek is so jammer jou droom om Wimbledon te beleef is nie verwesenlik nie.
Ek is so jammer ons het jou nie vereer tydens hierdie jaar se Bounce-A-Thon nie.
Ek is so jammer ek gaan jou nooit weer hoor lag nie.
Jy het mooi geleef, en diep liefgehad.
Want jy was lig. En lig verdwyn nie – dit verander net van plek, en bly brand in die mense wat jy aangeraak het.
Dankie dat jy, so sonder pretensie, vir my en soveel ander, gewys het wat dit beteken om werklik teenwoordig te wees. Dankie vir jou lewe, en jou voorbeeld.
Ons gaan jou so mis, maar ek weet, jy is nou tuis, en die Engele skaterlag…
Mirna (0827790507)
10 comments to “Vir Mariaan”
Sowaar n saam loop vriendin. Ek en Mariaan het hierdie pad saam geloop, ek 16jr en is nou 3 maande in remissie. Ons voorwaar die Liewe Vader se witbroodjies.
Dankie vir jou onthou Mirna
Dankie Daleen!
Ek is so bly sy was my sussie ons het wonderlike tye saam gehad.
Sy het my as kind baie kwaad gemaak as sy in d winter laat met ‘n kêrel uit was en yskoud agter my rug ingeklim het.
Ek was ook bevoorreg om, seker haar heel laaste storie, 3 of 4 dae voor haar dood, v hoe hulle ‘n kateter vir haar ingesit het, gehoor het. Julle kan dink hoe sy dit ingekleur het!
Dit was ‘n voorreg om jou te ken
Dalena
Dankie Dalena!
Kosbaar was sy en al haar skaterlag verhale. Matewis die kat wat die vis met hoek gesluk het. Die meerkat wat die hoenders vang en hoe haar japon aan die draad agter bly. So sal ons haar onthou wil alles en almal beter maak. Haar reguit opreg praat. Gaan haar so mis by Drinkwater. Voorwaar as gaste begin en as vriende geeindig.
Waardeer jou boodskap, Elsie!
Ai ja, ou Mariaan – Mirna, jy vat haar menswees so raak – ek hoor haar sommer in jou ode. Daar is net een Mariaan en ek is bly ek kon haar ook ken. Haar lig skyn definitief so helder in my hart en ek glo, in elkeen anders met wie sy paaie gekruis het.
Baie dankie Marinda!
Jy het Mariaan pragtig beskryf Mirna niemand kon dit beter gedoen het nie!! RIV Mariaan!!
Baie dankie Elspeth!