Outentiek is vir my ‘n lekker woord, al klink dit soos ‘n anglisisme. Dit beteken eg, oorspronklik, belyn met die waarheid. As ek aan outentiek dink, sien ek braaivleis op ‘n Sondag, Clarens, vasgeknyp daar teen die Rooiberge, en Riaan Cruywagen se “Haas Das se nuuskas”, onthou jy nog?
Deesdae hoor ons al meer: “Wees jou outentieke self!” Maar, wat beteken dit dan nou eintlik? Veral vandag, in 2025, met ons werklike lewens wat so verstrengel geraak het met ons virtuele wêrelde…Tania Smit het in ‘n onlangse Facebook-plasing my gedagtes op hol gesit met hierdie woorde: “Jou virtuele wêreld het die plek geword waar jy kan wegkruip en jouself oortuig jy is perfek. Dis die ek-blok-jou-op-my-foon omdat ek nie meer kans sien om moeilike situasies uit te praat nie. Dis die fan-klub wat cheer, en die 500 vriende op Facebook…Dis die plek waar jy kan vertel hoe skoon jou huis is, terwyl net jou kop bo die vuil skottelgoed, stof, en bondels wasgoed uitsteek…”
Sy is heeltemal reg. Ons leef in ‘n wêreld waar dit makliker is om ‘n filter te kies as om ons ware gesigte te wys. Jy kan jou oggend begin met ‘n “selfie” van oats met chia-saadjies en Almond melk, maar die dag eindig deur jou kinders vinnig vol te prop met visvingers en olierige skyfies van die Griek op die hoek. Sonder om ‘n oog te knip. Niemand gaan weet nie.
In die virtuele wêreld is jou slaai “Pinterest”-perfek, en jou gimfoto’s straal van selfvoldaanheid. In die regte wêreld knak jou sportsbra se zip in die klas, en die “kale” wat jy met goeie voornemens gekoop het vir jou proteïen-drankie, lê verlep onder in die yskas. Op Instagram is jy #fitspo, in die regte lewe is jy #moegspo.
Moenie ‘n fout maak nie – ek is self verskriklik trots op die duisende mense wat ons studio volg op Facebook en Instagram, en is tot in my siel dankbaar vir almal van heinde en verre wat heerlik saam met ons oefen op Patreon – maar ek glo nie ons het al ooit op hierdie platforms iets voorgegee wat ons nie uitleef nie…
…Het jy geweet? Volgens die Dove Self-Esteem Project se peiling gebruik 83% van meisies in Suid-Afrika filters om hul voorkoms in foto’s te verander! En 84,5% volwassenes is ontevrede met hul liggaamsbou…!
Die bekende Amerikaanse filosoof, Ralph Waldo Emerson, het honderde jare gelede al gesê: “To be yourself in a world that is constantly trying to make you something else is the greatest accomplishment.”
Ek onthou so goed my ma se woorde jare gelede voor my eerste werksonderhoud: “Wees net jouself…” Vandag weet ek sy’t bedoel: Besweer daardie stemmetjie wat so gereeld vir jou venynig fluister dat jy nie goed genoeg is nie. Daardie selfde stemmetjie wat jou vermoëns bevraagteken wanneer jy wel iets aanpak, met vrae soos: “Wie dink jy is jy om dit te probeer…?”
Die navorsing van Brené Brown het hierdie hele bynes van skaamwees en vrees vir vernedering oopgekrap. Sy sê ons is bang om outentiek onsself te wees uit vrees vir verwerping en vernedering. Die gevolg? Ons hou onsself terug, terwyl ons eintlik die volle reg het om te skitter! Ons probeer leef soos ons dink ons behoort te wees, maar dis eintlik hoe ons dink ánder van ons verwag om te wees.
In haar boek, “The Gifts of Imperfection” skryf sy: “Authenticity is a collection of choices that we have to make every day. It’s about the choice to show up and be real. The choice to be honest. The choice to let our true selves be seen.”
Ek kyk met verwondering na ons kleine Nina, noudat sy haar eerste treetjies begin gee…Sy staan op, val neer, staan weer op – sonder ‘n traan, sonder vrees. En ek dink dis presies wat outentiek beteken: om sonder skaamte jou eie pad te stap, te leer uit elke val, en met moed aan te hou beweeg…
Dis tyd om jouself toestemming te gee om jou egte self te wees. Daardie mens wat kan foute maak en terselfdertyd streef om ’n goeie ma te wees. Daardie mens wat stoei met die lewe en ook die wonderlike oomblikke geniet. Jou egte self wat nie gedefinieer word deur selluliet, die skaal, die spieël, of sosiale media nie.
Jou egte self, skaamteloos jy, met jou storie, jou sterkte, jou selfvertroue en jou stralende gees — dít is wie jy is. Outentiek! Sarah Ban Breatnach som dit die beste op in haar boek, “Simple Abundance”. Sy sê: “The authentic self is the soul made visible…”
Wanneer mense sê “wees jou outentieke self”, bedoel hulle eintlik: Wees eerlik teenoor jouself. Deursigtig. Leef en praat op ’n manier wat ooreenstem met jou waardes, jou drome en jou oortuigings – nie net wat ander van jou verwag nie. Wees konsekwent – dieselfde mens by die huis, by die werk, én in die gim. Lewe in die waarheid; asem dit in, en straal dit uit.
Jy sê ja en nee op ’n manier wat pas by jou hart, nie net om almal gelukkig te hou nie. Jy deel stories, suksesse en selfs mislukkings omdat dit deel van jou reis is – en jy weet ander kan daaruit leer. Jy gee jou opinie sonder vrees, maar met respek.
Outentiek wees is jy, op jou beste én jou slegste dae. Dis jy wat party dae vol energie by die studio inwals, en ander dae nog sukkel om die slaap uit jou oë te vryf. Dis jy wat lag tot jou maag seer is, maar ook jy wat troosteloos huil wanneer jou hondjie doodgaan. Outentiek wees is om te erken: ek is mens.
En daar is krag in outentiek wees. Jy bou regte verhoudinge – mense hou van die regte jy, want hulle kan daarmee identifiseer.
…Hierdie was nog ‘n oorweging vir my om ons Summer Challenge ‘n nuwe gesig te gee: Ons lede moet terugkyk op hierdie seisoen en weet – hulle was en is ons top prioriteit, elke oomblik. Nie net in die mooi oomblikke wat pas by ‘n “hashtag” nie.
Meer as ooit tevore wil ek elkeen van my lede en hulle behoeftes ken. Ek wil opregte belangstelling toon in elkeen se vordering, en ‘n omgewing skep waarin elkeen hulself kan wees. En ek wil egtheid bou, nie net spiere nie!
…Of ons dit wil erken of nie, ons is almal maar verknog aan die virtuele wêreld – dit bly lekker om motivering, idees en inspirasie daaruit te put. Solank ons onthou – ek en jy leef nie op ‘n skerm nie, ons leef in ons lywe, in ons gesinne, en in ons gemeenskappe.
’n Selfie kan die sweet, die rooi gesig en die hare wat vassit aan jou voorkop wegsteek, maar dit kan nooit die ware gevoel van jou liggaam ná ’n harde oefensessie vasvang nie. Die virtuele wêreld gee jou “likes” en filters, maar dit hou nie jou hand vas wanneer jy hartseer is nie. ‘n Honderd emoji’s kan nie kersvas hou by ‘n regte glimlag of egte omhelsing nie.
En dis hierdie outentieke momente wat ons aan mekaar bind – die regte stories, die regte lag, en die regte sweet. Die egte ons, die egte energie, en die egte groei, in die rou, ongefilterde oomblikke. Oorspronklik, en belyn met die waarheid.
Mag jou waarheid hierdie somer helderder skyn as enige lig op ’n skerm – sonder filter, sonder fasade, net jy.
Mirna
082 779 0507