Jou naam, jou waarheid?

In die legendariese fliek, “Dances with Wolves”, kry die hoofkarakter, luitenant John Dunbar, vertolk deur die charismatiese Kevin Costner, dié naam van die Lakota-stam nadat hulle sien hoe hy kalm en in beheer met die wolwe omgaan. Ek is mal oor die manier waarop Indiaan-name mense so akkuraat en terselfdertyd speels beskryf. Dis tong-in-die kies, maar treffend en kosbaar.

My Indiaan-naam in 2025 is verseker “Legends of the fall!” Almal weet van my groot val in die stepklas, en die val toe ek uit die boks wou spring. Daar was ‘n hele paar ooggetuies vroeër daardie selfde aand toe my pers steweltjies se gladde hakke onder my uitgegly het, en ek pens en pootjies op my agterent beland het. Gelukkig gaan dit mos nie oor die val nie, maar oor die opstaan! 

Ek kan aan ‘n lekker paar gepaste name dink vir ons lede – Marie is “Keeper of Rebounds”, want sonder haar sou niks waarskynlik op hulle plekke kom nie. Martie is “She waves at dawn”, want daardie wuifie met die instap in die studio het haar handelsmerk geword, en Carien is ongetwyfeld “Whoops a lot …”

…Na ‘n paar maande van winter én ‘n derde nekoperasie, draf Christene Dinsdagoggend weer by die studio in. Ons skerts bietjie voor klas, en sy sê, “Ja jong, noem my sommer Humpty Dumpty”! Dit laat ons almal glimlag – Christine het al ‘n paar keer verdwyn; maar as ons weer ons oë uitvee, is sy gelukkig altyd terug!

Dit het my nogal laat dink aan die name wat ons onsself gee…Ek praat nie van ons doopname of byname nie – ek verwys na daardie geheime name wat ons woordeloos fluister wanneer ons in die spieël kyk. Of daardie sêgoed wat ons in ons koppe mompel, nadat ons ‘n flater begaan het…

Maar hoekom is dit belangrik? Omdat die name wat ons onsself gee, ‘n vorm van selfspraak is. En selfspraak is kragtig. Navorsing toon dat elkeen van ons tussen 50 000 en 60 000 gedagtes of interne gesprekke met onsself voer. Elke dag! Ongelukkig wys navorsing ook dat ongeveer 80% van hierdie gesprekke negatief is!

Daar het nogal vir my lig opgegaan oor hierdie onderwerp, toe ek onlangs afkom op ‘n artikel van Dr Lizelle Grobler, ‘n bekende psigoloog, op Maroela Media. Sy sê dat selfgesprek nie iets is wat ‘n mens aanleer nie. Mens is van nature konstant in gesprek met jouself, en die manier waarop jy met jouself praat, beïnvloed alle aspekte van jou lewe.

Sy verduidelik so mooi dat mense wat aan depressie ly, gereeld siek is, of net voel dat hulle nooit kan loskom van ‘n situasie en vorentoe beweeg nie, heel waarskynlik gedurig besig is met negatiewe selfgesprekke.

“Ek is so simpel, ek doen altyd simpel goed.” “Ek sal dit nooit regkry nie.” “Ek is vet, ek is lui, ek is oud, ek is swaar, ek is onfiks…” “Ek lyk soos Dosie de Koker in hierdie rok!” “Ek voel soos Delorus Deluxe met hierdie oefenbroek…” Klink dit bekend?

“Die probleem is dat ons onsself onvoorwaardelik begin glo – veral oor hoe ver ons lywe tekort skiet”, sê Richard Carlson, skrywer van “Stop Thinking, Start Living”. Hy sê lyfliefde begin juis met ons eie selfkonsep – by die manier waarop ons oor ons lywe dink…

Ek dink een van die belangrikste dinge wat ek deur baie jare in die fiksheidsbedryf geleer het, is dit: Ons vrouens se grootste stryd lê nie in die spieël nie – dit lê in die manier waarop ons met onsself praat en wat ons van onsself glo.

Nou hoe op aarde oortuig ek my kop om op te hou om my lyf te boelie? Wanneer ons hierdie waarheid ons eie maak: Ons ontwikkel nie lyfliefde omdat ons perfekte lywe het nie. Dit ontwikkel wanneer ons hierdie lywe wat ons het, liefkry. Maar dis nie so maklik om hierdie kopskuif te maak nie.

Vir jare is ons gedagtes gevoed met boodskappe oor hoe ons “behoort” te lyk, en dit vat tyd om daardie ou stemme sag te maak. Maar ’n nuwe manier van kyk is moontlik. Wanneer jy begin om jou liggaam te waardeer vir wat dit vir jou doen eerder as hoe dit lyk, skuif iets diep binne jou. Dit is nie ’n vinnige verandering nie, dis ’n reis – ’n sagter taal wat jy met jouself leer praat.

Die bekende Amerikaanse spreker, Byron Katie, het onlangs gesê: “We’re all doing the best we can. But when we believe what we think, we have to live out those stories. When there’s chaos in our heads, there’s chaos in our lives. Question your thoughts, and there will be peace in your life…”

Dis nie maklik om ons vasgestelde denkpatrone te verander nie, maar ons kan begin met ‘n nuwe manier van noem…In plaas van “ek’s so ongedissiplineerd” – sê, “ek’s nog besig om my ritme te vind.” In plaas van “ek kan nie” – sê, “ek’s nog oppad om dit reg te kry.” In plaas van “Kyk my donderdye” – sê “Ek is oukei soos ek is.” En in plaas van “ek’s ‘n wrak” – probeer, “ek’s ‘n work-in-progress.”

So, dit gaan eerder oor erkenning en bewuswording van ons innerlike dialoog, eerder as om dit te beveg of te ontken. Meestal is dit pyn wat ons beste leermeesters is. En om dit te verstaan, maak dat ons sagter en met meer deernis na onsself kyk…

In sy boek “What to say when you talk to yourself”, skryf Shad Helmsletter: “You will become what you think about the most; your success or failure in anything will depend on what you say to yourself. The brain simply believes what you tell it most. And what you tell it about you, it will create. It has no choice. If you tell yourself that you cannot, what can the only outcome be…?”

Die stem waarmee jy met jouself praat, bepaal of jy jou drome bou of breek. Die manier hoe jy met jou hart praat, dit bepaal jou lewe. Elke keer as jy sê, “ek kan nie”, bou jy ‘n muur. Elke keer as jy sê “ek gaan probeer”, bou jy ‘n brug.

Jou naam is jou waarheid – en elke woord wat jy binnetoe fluister, word die wêreld wat jy buitetoe leef…

Ek is oortuig hierdie Somer gaan nog ‘n paar legendariese Indiaan-name oplewer… “Legends of the Fall” is klaar gedeps, maar jy kan kies: “Steps-with-Strength”, “Buns of Fury”, “Planks with Power”, “Booty Whisperer”. Onthou net, dis nie hierdie name wat saakmaak nie, dis die saggies, mooi praat met jouself wat tel… 

Mirna
082 779 0507