
…Dis hoegenaamd nie dat ek vergeet het om ‘n Blog te skryf verlede naweek nie, dit was immers Moedersdag! Nee, Eswee en Mia het kom kuier (Mia is Eswee se Herdershond, onthou…Nicole is steeds sy hart se punt!), en daar was ‘n swetterjoel Challenge admin-dingetjies om in plek te kry voor Maandag. En nou is ‘n hele week van ons Winter Challenge al agter die blad!
Ek het nou só gedink – ‘n mens het mos darem nie ‘n Moedersdag nodig om oor ma-wesens te skryf nie!
Dié storietjie van James Dobson het my nogal laat glimlag. Hy vertel die verhaal van ‘n ma wat siek in die bed was met griep. Haar dogtertjie wou so graag ‘n goeie verpleegster vir haar wees. Sy het vir haar ‘n kussing gebring en uit ‘n tydskrif vir haar gelees. Kort daarna het sy haar selfs verras met ‘n koppie tee. “Sjoe! Ek het nie geweet dat jy weet hoe om tee te maak nie!” Die dogtertjie het hierop trots geantwoord: “Ek het mooi geleer deur Mamma dop te hou. Ek kon net nie die teesif kry nie, toe het ek maar die vlieëplak gebruik.” “Wat?!”, het die moeder uitgeroep. “Moenie kwaai wees nie, Mamma. Ek het nie die nuwe vlieëplak gebruik nie, ek het die ou een gevat…”
Ons as ma’s het almal sulke oë-rek stories wat sorg vir lekker lag agterna. Laaank agterna. Eswee en Mariné het eenmaal ‘n lekker gat in die blou “camping cot” gesny. Hul verduideliking was dat die fort wat hul gebou het, ‘n deur gekort het. ‘n Ander keer kon ons glad nie verstaan waarom die hele grasperkie van ons meenthuis in die dorp sommer net gevrek het nie… ons twee kleuters het gedink die spuitbottel met “roundup” is water…
…Die New York Times het op ‘n stadium ‘n groep vrouens van ‘n bekende klub gevra om te help besluit oor die twaalf grootste vrouens in Amerika. Na behoorlike oorweging was hulle antwoord: “Die grootste vrouens in die Verenigde State is daardie vrouens van wie nog nooit buite hul huise gehoor is nie…”
Moeders. Opvoeders en dissiplineerders, kokke, taxibestuurders, versorgers, kitsbanke, sieketroosters, kreatiewe ontwerpers van skooltake, toespraakskrywers, helpers met huiswerk, agter-die-skerms-rasieleiers, bidders en, in baie gevalle, broodwinners. Blykbaar gaan ’n ma, wat twee seuns grootgemaak het, reguit hemel toe en in die geval van enigiets meer as twee, gaan die bure aan alkante saam.
Om ’n ma te wees, is nie altyd maklik nie. Spreuke 31 se moeilike, moedelose standaard help ons ook nie regtig nie: Die ideale vrou is een met ʼn sterk karakter, groot wysheid, baie talente, en, om die kersie op die netjiese koek te sit, medelye. Sy is nie net ’n goeie vrou en ma nie, maar ook ’n vervaardiger, invoerder, bestuurder, grondbesitter, boer, kleremaker, stoffeerder en handelaar. Sjoe. Ja. Sug. Hierdie perfekte beeld help nie eintlik die moderne, besige vrou om beter oor haarself en haar selfopgelegde tekortkominge te voel nie, né?
Gevoelens van ontoereikendheid is deel van elke ma se hart. Alhoewel alle ma’s bewus is van die negatiewe gevolge van sulke gedagtes, bly dit maar altyd aan die hartwande klou, daar waar dit die heel ongemaklikste en seerste is. Min ma’s kan glo dat hulle nie iewers in die verlede verkeerd opgetree het en definitief op verskeie oomblikke in die toekoms weer gaan fouteer nie. Partykeer skrik ek in die middel van die nag wakker, en herleef ‘n situasie wat ek soveel beter kon hanteer het met een van ons twee blonde kinders.
Ek lees Saterdag hierdie woorde van die Amerikaanse skryfster, Donna Ball raak: “Motherhood is a choice you make every day, to put someone else’s happiness and well-being ahead of your own, to do the right thing even when you’re not sure what the right thing is, and to forgive yourself, over and over again, for doing everything wrong…”
Om ‘n ma te wees beteken jou hart loop gereeld buite jou lyf rond – jy sien die seer in jou kind se oë raak lank voor die emosies soos lawa by ‘n berg uitskiet. ‘n Ma se hart is soms so vol bekommernis dat sy skaars kan asem kry, maar wanneer haar kinders gelukkig is, bokspring haar hart van blydskap. ‘n Ma deins nie terug van Goliat uitdagings nie, ‘n ma sal jou laat terughol vir ‘n gunsteling speelding, al beteken dit dat sy self sal laat kom, en ‘n ma is die een mens, wat altyd net die mooi in jou sal sien, en met haar hele hart sal bly glo dat jy net die heel beste verdien. Altyd.
Laat my dink aan die Wiskunde juffrou wat vra: “Jannie, as jou ma ‘n tert bak en vir haar, jou en jou vyf boeties elkeen ‘n stuk gee, hoe ‘n groot stuk sal jy kry?” Jannie antwoord: “’n Sesde, Juffrou!”, waarop die juffrou antwoord: “Nee Jannie, jy ken nie jou breuke nie. Onthou dat julle sewe is.” Jannie antwoord terug: “Nee, Juffrou, juffrou ken nie my ma nie. Sy sou gesê het dat sy nie tert wil hê nie…”
‘n Ma se werk is nooit klaar nie, selfs nie wanneer haar kleuters grootmenskinders word nie. Hulle bly elke dag in haar gedagtes en in haar gebede. En sy’s altyd uit haar vel wanneer hul kom kuier. Altyd.
…‘n Mens is altyd jou ma se kind, en die dag wat sy dood is, is jy ‘n weeskind. Maar vandag gaan ek nie een keer sê hoeveel ek my mammie mis nie.
Eintlik wil ek net sê: Gelukkige Moederlewe, aan elke ma wat pleisters opplak, einas soen, en elke aand laaste gaan slaap. Aan elke ouma wat help grootmaak, stories vertel en sorg vir lag en drukkies. Aan elke skoonma, wat nes ek, ‘n liewe kind bykry wat jou, soos Zander, sommer net dadelik maklik “Ma” noem. Aan elke enkelma, wat Pa ook moet wees. Aan elke huishulp-ma, wat self kilometers ver met ʼn kleintjie op die rug moet loop, en dan kom help voed, grootmaak en opruim. Aan elke verarmde ma, wat nie seker is waar haar kinders se volgende maaltyd vandaan gaan kom nie. En aan elke ma wie se troeteldiere vir haar soos mensekinders is. Gelukkige Moederlewe.
Maar. Mag ons seker maak dat ons nie onsself verloor in die warboel van kinders grootmaak nie. Mag ons nie vergeet om getroud te wees nie. Mag ons nooit ophou om vir ons kinders te bid nie.
En. Mag ons altyd onthou – die kosbaarste besitting wat ons vir ons kinders kan gee, bly tyd. En dan vlerke, sodat hul die lewe kan verower.
Mirna
082 779 0507
2 comments to “Gelukkige moederlewe!”
Aaaaa Mirna, jy is ‘n vrou van menigte talente. Dankie vir die wyse woorde… Motivering met die Winter Challenge… Elke dag se klasse deur jou en jou wonderlike span!! Ek baat so baie daarby💃💃❤️❤️
Dankie Linda. Jy maak ons baie trots.